Lyarann Schippers is Sondag onverwags dood. Foto:

Credit: SYSTEM

Familie, vriende en die gemeenskap van Rivierview betreur almal die ontydige dood van Lyarann Schippers.

Die 15-jarige is Sondag dood nadat sy ’n massiewe asma-aanval gekry en geval het.

Volgens haar ouma, Cathy Muller, wat haar sedert geboorte grootgemaak het, het Schippers ten tyde van die voorval by haar vriend gekuier.

“Hy het so 17:00 Sondagmiddag kom klop aan die deur en gesê Lyarann vra haar asmapompie. Ek het hom sommer twee pompies gegee. Net ’n paar minute later was hy weer by die deur, steeds met die pompies in sy hande en sê toe sy het geval en ek moet self tot daar gaan,” verduidelik Muller.

Sy het haar na haar kleindogter gehaas, wat op een van die woonstelblokke se tweede verdieping se trap se landing gelê het.

“Toe ek daar aankom, het daar reeds ’n klomp mense onder gestaan en ek het deur hulle gebeur om by haar uit te kom. Toe ek by haar kom, het ek haar naam geroep, maar daar was geen reaksie nie, sy het nie eens haar oë oopgemaak nie. Daar was ’n oop wond op haar voorkop, waar sy seker haar kop gestamp het. Mense het nog probeer om haar asmapompie in haar mond te sit, maar ek het vir hulle gesê dit gaan nie werk nie want sy sal dit nie kan intrek nie.”

Sy vertel ook dat omstanders die ambulansdienste probeer bel het, maar kon glo nie na hulle toe deurkom nie.

“Ons het ’n polisievoertuig voorgekeer en vir hulle gesmeek om Lyarann na die hospitaal te neem. Maar volgens hulle mag hulle dit nie doen nie. Hulle het ook die ambulans in die hande probeer kry. Uiteindelik het hulle deurgekom en is gesê “hulle is oppad”.

Lyarann se oom het by die toneel aangekom en sy is in sy motor gelaai en hulle is hospitaal toe.

“By die hospitaal is sy reguit na die intensiewesorgeenheid geneem. Ek het gehoor hoe die dokters rondom haar praat en probeer om haar by te bring. Ek het egter buite gaan sit, want dit was alles te veel vir my.”

Muller vertel ook tussendeur dat Lyarann, wat sedert geboorte aan asma gelei het, in 2020 ook so ’n massiewe asma-aanval gehad het en dat sy vir drie minute dood was voor dokters haar weer kon bybring. ’n Dokter het glo destyds gesê dis omdat die suurstof moeilik deur haar liggaam herlei word. Een van haar longe het ook baie skade gelei as gevolg van die asma-aanval.

Ná ’n ruk het ’n dokter na Muller buite gaan soek en saam met haar gestap.

Dit is toe dat sy vir haar die doodstyding gegee het.

“Sy het my in kennis gestel dat Lyarann dit nie gemaak het nie,” verduidelik Muller deur haar snikke.

“Die dokter het gesê Lyarann het geen pols gehad toe sy by die hospitaal aangekom het nie, maar dat sy haar bes probeer het om haar by te bring. Dit klink vir my asof sy haar kop baie hard gestamp het. Die slag was so hard dat dit haar skedel laat kraak het, en dit het bloeding op haar brein veroorsaak.”

Ná ’n ruk sê sy deur die trane: “Dis baie seer.”

Maar sy sê ook dat al die goeie herinneringe haar deur die trane laat glimlag.

“Ons het ’n baie goeie verhouding gehad. Sy is my baba en ek het net die beste vir haar gegee. Sy was altyd so netjies in alles wat sy gedoen het. Sy het alles met passie gedoen. Sy het altyd my hart gesteel en vir my koffie gemaak, of my hare vir my gedoen en sy selfs ook my klere vir my uitgekies. Maar dit is net ’n paar van die dinge wat ek die meeste gaan mis.”

Talle jonges van die woonbuurt asook Hoërskool Breërivier, waar Lyarann in graad 10 was, het vandeesweek hul medelye en hartseer in tientalle Facebook-inskrywing en kommentare gedeel.

Hilton May, Hoërskool Breërivier se hoof, het gesê gemoedere was Maandag hoog by die skool.

“Sy was ’n allemansvriend en het gou in ’n mens se hart gekruip. Sy het ’n skerp sin vir humor gehad en het ook ’n groot vriendekring gehad. Die leerders was Maandag erg getraumatiseer, dit was ’n tranedal.

“Ek moes ’n predikant kry om met die kinders te kom praat, asook ’n berader. Vandag (Dinsdag) gaan dit darem beter.”

Die skool beplan om vandag (Donderdag) ’n troosdiens te hou en nooi die gemeenskap om dit by te woon. Die tyd van die diens sal op die skool se Facebook-blad bekend gemaak word.

Schippers se gesin het op hierdie stadium nog nie begrafnisreëlings gemaak nie, want hulle wag nog op haar doodsertifikaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article