Ashton United het Saterdag (7 Junie) daarin geslaag om Montagu-klub – tans tweede op die Grootuitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langebergstreek – sonder enige ligapunte met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Met dié skittersege van 30-15 oor die mede-voorloper in die Breë-Langeberg-afdeling het Ashton die tweede ronde van die Grootuitdaagbeker-kompetisie op ‘n positiewe noot begin en terselfdertyd ‘n duidelike waarskuwing aan besoekende spanne gestuur – julle gaan klippe kou in Cogmanskloof!
Dié tweederondeligawedstryd is in nat en koue weerstoestande op die Cogmanskloof-sportveld beslis. Ashton het ná ‘n suksesvolle strafdoel die voortou geneem, maar Montagu het met ‘n onverdoelde drie deur Charlton Scholtz teruggeslaan. Die tuisspan het egter daarna met sy tweede strafdoel geslaag om teen rustyd net-net met 6-5 voor te loop.
Ná die aanvang van die tweede helfte het Ashton sy voorsprong met ‘n verdoelde drie vergroot.
Montagu het daarna met ‘n strafdoel geslaag en sy kanse lewendig gehou. Ashton het egter sy greep op die wedstryd met nog ‘n verdoelde drie verstewig en die telling na 20-8 geneem. Daarna het hy sy voorsprong met ‘n strafdoel verder vergroot.
Montagu is dus gedwing om vir die grootste gedeelte van die wedstryd inhaalrugby te speel.
Hy het later wel met ‘n drie deur Luke Fluks teruggeslaan om die telling 23-15 te maak.
Ashton het met sy derde verdoelde drie uiteindelik die wedstryd in sy guns beklink met die eindtelling ‘n stewige 30-15. – Norman Evertson





