Worcester Arbeidsbediening, wat die Evangelie van Jesus Christus aan mense in hul werksplekke bedien, groei van maand tot maand sedert die bediening in Julie 2022 weer begin is.
Hulle het tans meer as 100 besoekpunte per maand. Die behoeftes van besighede en ondernemings word egter meer, terwyl die huidige 28 vrywilligers (bedienaars) te min is.
Hulle is baie dankbaar vir die huidige uitstaande bedienaars wat vrywillig, met opoffering en met ’n hart en liefde vir die saak elke dag die markplein besoek en ons mense bedien en bemoedig. Saam met hul dienste is daar ook opleiding ter sprake en tien van hul mense is onlangs as bedienaars geakkrediteer.
Daar is ook begin met die bediening van dowe mense. Hiermee help ds. Jan Oberholzer (wat nou ongelukkig weggaan), ds. Betty Wanza en Philip Dobson.
Kobus van den Berg sê dit is baie belangrik dat arbeidsbediening beskou moet word as “ ’n gewete vir die markplein”.
“Ondersteuning van Christen-gelowiges in hul werksplekke. ’n Arm vir die kerk van Christus. Ons streef ook na eenheidsbediening. Daarom is ons bestuur nou besig met ’n aksie om meer Christengemeentes en sakemanne te vra om te help met hierdie saak en dat hulle ook as beskermhere vir ons sal optree. Getuienisse van werkgewers en personeel weerspieël die behoeftes van ons werksmense en die betekenisvolheid van arbeidsbediening.”
. Vir meer inligting, kontak Kobus van den Bergh by arbeid8@gmail.com


