Albertus Kühn en een van sy Modern Game-hoenders by die jeugskou Saterdag (4 Maart) in Swellendam waar hy die pluimvee-afdeling vir seniors gewen het.


Standard het ’n voëltjie hoor fluit dat Albertus Kühn (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool De Villiers Graaff, ’n liefde vir hoenders het.

Hierdie gerug is reg bewys toe Albertus aan die koerant bevestig dat dié kekkelende voëls ’n snoesige plekkie in sy hart geskrop het.

Albertus het reeds van sewejarige ouderdom met hoenders begin skou – ’n stokperdjie met diep wortels in sy familie.

Albertus is die derde geslag in sy familie wat ’n passie ontwikkel het vir die skou van hoenders en verduidelik dit is ’n hoofstuk waaraan hy sal aanhou skryf tot die dag wat sy rug te krom en sy knieë te styf is om die hoenderhok binne te gaan.

Tans neem Albertus deel aan pluimvee- asook jeugskoue waar hy met sy Modern Game- en Bantam Orpington-hoenderrasse skou en gereeld met pryse by die huis gaan pronk.

Die afgelope Saterdag (4 Maart) het Albertus aan die Swellendam-jeugskou deelgeneem en “goed” presteer, het sy ma, Jomarié, vertel.

Albertus verduidelik om met hoenders te skou, beteken om na die uiterlike voorkoms en teling van die hoenders, wat die hoender se kleur insluit, om te sien.

Strafpunte, volgens Albertus, sluip in wanneer ’n hoender se toonnaels te lank is as hulle vere aan die pote het.

Hierdie is immers aspekte wat Albertus kan voorkom deur die hoenders goed te versorg.

Ander strafpunte wat te doen het met die teling van ’n spesifieke hoender, sluit in sy struktuur en of die hoender met ’n krom rug- of bors voorkom wanneer die voëls op ’n onstabiele voorwerp, soos ’n takkie, staan.

Die hoenders moet ook met skoon vere pronk en word van kop tot tone gebad sodat hulle met addisionele sjarme by die beoordelaars kan vlerk sleep.

Albertus is immers nie net ’n hoenderskouer nie, maar ook ’n teler van beide die Modern Game- en Bantam Orpington.

Hy beoordeel ook skoue op klubvlak waar hy sy pluimveekennis verder verbreed en nuwelinge tot die sport verwelkom.

Volgens dié hoërskoolleerder het hy deur die jare ’n band met ’n paar van sy donserige maatjies gevorm, waaronder die Modern Games-hoenderras.

“As ek hulle roep, sal hulle na my toe kom,” vertel Albertus en verduidelik verder dat die Bantam Orpington’s met hul aankomsdag ’n wilde gier gehad het, maar nou ook mak rondloop en hul mense-pappa met hul voorkoms vertrou.

Albertus het oor die jare heen met verskeie pryse weggestap, waaronder die pluimvee-afdeling vir seniors tydens die jeugskou op Swellendam die afgelope naweek (Saterdag 4 Maart) die nuutste is.

Buiten sy liefde om sy hoenders te skou, is Albertus ook ’n kranige akademikus en hy beoefen karate.

Sy vakkeuse op skool sluit in rekenaartoepassingstegnologie en sakestudies sowel as ingenieursgrafika en ont­werp (IGO).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article