Trevor Human
In ‘n skouspelagtige rugbystryd tussen die twee voorste spanne in die Boland-streek se Uitdaagbeker-kompetisie het die Alberts-rugbyklub van Worcester en die Proteas van De Doorns (bekend as die “Prouks”) mekaar Saterdag op Bolandpark in Worcester die stryd aangesê. Albei spanne het met 15 punte in die kompetisie se ranglys ingekom, met die Proteas op nommer een en Alberts op nommer twee. Wat gevolg het, was ‘n riller van ‘n wedstryd wat toeskouers op die punt van hul stoele gehad het.
Die wedstryd het teen ‘n moordende tempo negin. Alberts het eerste punte aangeteken toe sy flank, Jaco Meintjies, ná net twee minute van speeltyd in die hoekie gaan druk het. Jadian Buys se akkurate skop het Alberts met 7-0 laat voorloop. Die Proteas het egter dadelik met ‘n goed uitgevoerde drie in die hoek teruggeslaan. Die doelskop was mis, wat die telling op 7-5 gehou het.
Alberts het beheer gehou met twee strafskoppe deur Buys, wat sy voorsprong na 13-5 gerek het. Kort daarna het Philberie Joseph (“Kalla”) met een van sy vele kraglopies ‘n geleentheid vir Shan-Jay Lukas geskep om in die hoek vir sy drie oor te gaan. Met nog ‘n geslaagde strafskop het Alberts ‘n gemaklike voorsprong van 21-5 opgebou.
Die Proteas, bekend vir sy veggees, het teruggeveg. Ná ‘n pragtige agterlyn-aanval het die span se vleuel oor die doellyn geduik vir ‘n pragdrie, wat die telling op 21-12 te staan gebring het.
Dinge het vir Alberts moeiliker geraak toe een van sy spelers met ‘n geelkaart van die veld gestuur is. Maar selfs met 14 spelers op die veld het hy ‘n verdere strafskop behaal om die telling na 24-12 te rek.
Die Proteas het sy spel verskerp en met briljante spanwerk twee vinnige drieë gedruk. Skielik het die Proteas vir die eerste keer in die wedstryd voorgeloop – 26-24. Hy het met ‘n voorsprong teen halftyd water gaan drink en die momentum aan sy kant gehad.
Ná rustyd het Alberts weer beheer geneem. Ruwarno van Staden het dadelik oor die doellyn geduik, ná ‘n briljante lynbreek deur Cubert Michaels. Die doelskop was mis, maar Alberts het weer voorgeloop, met 29-26. Kort daarna het Ryno Wessels ‘n losbal opgeraap en ‘n drie onder die pale gedruk, met Buys wat suksesvol verdoel het om die telling na 36-26 te neem.
Alberts se voorspelers het die wedstryd begin oorheers. Philberie Joseph, Thorick Pike, Sadwin Meintjies en Dirkie de Kock het in die voorhoede gewerk, wat Alton Hendriks die kans gegee het om deur ‘n gaping in die Proteas se middelveld te glip. Dit het Ruwarno van Staden se tweede drie van die wedstryd opgestel, en met ‘n suksesvolle doelskop het Alberts sy greep met 43-26 verstewig.
Die Proteas het met vinnige spel probeer terugkom, maar Alberts het sy verdediging reggehou. Michaels het weer ‘n briljante individuele poging gelewer.
Hy het drie spelers verbygesteek en vir ‘n ongelooflike drie oorgeduik. Met die telling op 48-26 het Alberts effens terug- gesak, wat die Proteas in staat gestel het om twee vinnige drieë te druk en die telling na 48-36 te bring.
Dit was egter te laat vir die Proteas, want Alberts se spoedvleuel, Jayden Douries, het ‘n losbal opgetel en met ongelooflike spoed 60 m gehardloop vir die laaste drie. Shane Pietersen het suksesvol verdoel, en die eindtelling was ‘n indrukwekkende 55-36 in Alberts se guns.
Nie net het Alberts se A-span blink gespeel nie, maar sy B-span het ook ‘n knap oorwinning van 19-12 oor die Proteas behaal, wat die dag ‘n volmaakte een vir die trotse Worcester gemaak het.
Dié oorwinning plaas Alberts nou bo-aan die ranglys in die Boland-streek se Uitdaag-kompetisie.
• Alberts speel eerskomende Saterdag teen Klipdrift in Rawsonville.





