Die Alberts-rugbyklub het Saterdag ‘n kragtige vertoning in De Doorns gelewer toe hy Mountain Stars, die tuis-span, in ‘n opwindende wedstryd 34-19 geklop het. Alberts het sy stempel van vroeg af afgedruk en die momentum reg deur die wedstryd behou.
Die besoekers van Worcester het die eerste punte aangeteken danksy ‘n strafskop wat Jadian Buys oorgestuur het. Alberts het in die skrums groot druk op Mountain Stars geplaas, wat veroorsaak het dat die tuisspan telkens op die agtervoet beland het.
Ná ‘n rukkie se versigtige spel van albei spanne, het Alton Hendriks ná volgehoue druk van die voorspelers die eerste drie vir Alberts gaan druk. Met die suksesvolle doelskop het die telling 10-0 geword. Kort daarna het Shane Pietersen die agterspelers van Mountain Stars met ‘n taktiese skop verras en Sergio Adams het dié fout benut om onder die pale te druk. Alberts het ná nog ‘n suksesvolle doelskop verder voorgeloop (17-0). Die kragtige voorspelerspel van Alberts het voortgeduur, wat uiteindelik Cubitt Michaels in staat gestel het om in die hoek te gaan druk om die telling (22-0) te maak. Teen die einde van die eerste helfte het ‘n paar foute van Alberts die Mountain Stars die geleentheid gebied om twee drieë aan te teken. Die rustydtelling het dus op 22-12 geëindig, en dit het die tuisspan nuwe hoop gegee.
Mountain Stars het vol vuur uit die kleedkamer gekom, met hul toeskouers wat lekker saamgesing het om hul span aan te vuur. Maar Alberts het gou die wind uit hul seile geneem toe Ashwill Syster ná ‘n agterlynbeweging onder die pale gaan druk het. Die doelskop was in die kol en die telling het tot 29-12 gestyg.
Mountain Stars het dapper teruggeveg en is met ‘n drie in die hoek beloon om die telling tot 29-19 te verklein. Die wedstryd het in goeie gees sonder enige voorvalle voortgeduur, maar Alberts het die laaste sê gehad toe Cubitt Michaels sy tweede drie van die dag in die hoek gaan druk het – eindtelling 34-19 in Alberts se guns. – Trevor Human




