Agri Wes-Kaap het sopas die agt finaliste vir die 2025 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aan gekondig – ‘n toekenning wat uitnemendheid, leierskap en volgehoue toewyding in die landboubedryf vier. En twee van die finaliste is vanaf die Breedevallei en Langeberg. Een finalis ook is afkomstig vanaf Tulbagh, en nog ene vanaf die Ceres-vallei.

Dié finaliste is nie net jonk nie, maar reeds gevestigde produsente wat ‘n waardevolle bydrae tot hul gemeenskappe en die Wes-Kaapse landbou-ekonomie lewer.

Hulle is––

• André Swanepoel (28), wat reeds sewe jaar in die Langeberg-gebied met sitrus, steenvrugte, wingerd en groente boer.

• Francois Rossouw (30), met ses en ‘n half jaar ondervinding in die Hexriviervallei, waar hy tafeldruiwe op 310 hektaar produseer.

• Gordon Anderson (36), wat reeds 16 jaar met appels en pere op 83 hektaar in die Overberg boer.

• Hermann Heins (25), wat 125 hektaar wingerd en 450 varksôe in die Stellenbosch-streek bestuur.

• Jaco Bruwer (25) van Barrydale, wat reeds vyf jaar met perskes, nektariens, pere, appelkose, suurlemoene en pampoene boer.

• Mario Lombard (39), ‘n ervare boer van George, wat avokado’s en vleisbeeste bestuur. Hy boer al vir 19 jaar.

• Musa Mfengu (39), van Tulbagh, wat op 36,6 hektaar bloubessies produseer en reeds 13 jaar in die bedryf is.

• Niel Bruwer (37) van die Ceres/Hamlet-gebied, met 15 jaar ervaring. Sy onderneming sluit in droëvrugte op 90 hektaar en kernvrugte op 145 hektaar.

Volgens die beoordelaars se sameroeper, Inus Oosthuizen, is die beoordelaarspaneel opgewonde oor die komende besoeke aan die finaliste se plase: “Elke jaar word ons verras deur die gehalte van jong boere in ons provinsie – en vanjaar is geen uitsondering nie. Wat hierdie groep besonders maak, is die diversiteit van boerderye wat ons gaan besoek – vanaf bloubessies tot varke, en van tafeldruiwe tot avokado’s. Ek sien uit daarna om eerstehands te beleef hoe hierdie boere in hul onderskeie velde uitblink.”

Die wenner van die 2025 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie sal op 11 Junie aangekondig word. Die provinsiale wenner sal die Wes-Kaap dan verteenwoordig in die Nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie wat later vanjaar plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article