Afriforum-Worcester se massapatrollie het die naweek groot aandag getrek.Foto: Verskaf


Klipharde alarms en sirenes, flitsende blou, rooi en wit ligte, meer as 40 voertuie wat agter mekaar deur Worcester se strate vleg, ambulanse, brandweerwaens, polisiebakkies, veiligheidsmaatskappye se patrollievoertuie en selfs ’n brigade bikers . . .

Menige Worcesteriet het Vrydagaand seker gewonder wat de joos gaan dan nou in Worcester se strate aan, want daar moet seker iewers ’n ongeluk of ’n misdaadtoneel wees waarheen hierdie klomp voertuie hulle haas?

Die publiek kan gerus ontspan – die gewoel was maar net die vriendelike lede van die plaaslike Afriforum-Worcester-tak wat hul massapatrollie gehou het.

En wat ’n suksesvolle massapatrollie was dit nie.

Die bogenoemde elle lange string voertuie het Vrydagaand meer as 42 km deur Worcester se strate gery in ’n bewusmakingsveldtog om Worcesteriete van Afriforum-Worcester se teenwoordigheid in te lig en inwoners gerus te stel dat hulle – almal vrywillige patrollielede – daar is om Worcester se woonbuurte te patrolleer.

Die bewusmakingsveldtog het by die De la Bat-swembad begin, daarna na Fairy Glen beweeg, deur Bergsig gegaan na Hospitaalheuwel en Hospitaalpark, van daar na Langerug, Somersetpark en toe na Altona, Worcester-Wes, en van daar af weer na Van Riebeeckpark, Bloekombos, Fairyway Heights, Panorama en toe na Meiringspark, die Heatlievale-nywerheidsgebied, die Paglande, die middedorp, en uiteindelik na Reüniepark en Rouxpark.

Ná drie volle ure se ry deur Worcester se strate was almal seker pootuit toe hulle aan die einde van dié lang patrollie weer by die De la Bat-swembad aangekom het.

Die verrigtinge is toe afgesluit met ’n heerlike worsbroodjie en koeldrank en ’n heerlike gekuier wat nog lank aangehou het.

Dr. Julian Kritzinger, die wyksraadslid van wyk 7, het die voorsitter van Afriforum-Worcester, Jolize Geldehuys, gelukgewens met die suksesvolle massapatrollie asook Afriforum-Worcester se veiligheidshoof, Louis Conradie, met die reëlings vir die patrollie.

Afriforum-Worcester het op sy beurt sy dank betuig aan verskeie instansies, organisasies en ondernemings wat van die massapatrollie ’n sukses gemaak het, onder wie die sigbare-polisiëringshoof van die Worcester-polisiekantoor, kol. Ciprianus van der Westhuizen, die Breedevallei-brandweer, Priority Care-ambulansdienste, Capital Security, Fidelity ADT Security, LTS Security, Breede Valley Farm Watch, Worcester Neighbourhood Crime Watch en Boland Beavers-motorfietsklub.

. Bel Afriforum Worcester se skakelbeampte, Jacoba Bradbury, by 074 751 0569 met enige navrae oor die aard van Afriforum-Worcester se werksaamhede, en oor hoe om te werk te gaan om Afriforum Worcester te ondersteun of as lid by hulle aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article