Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente verwag op die vooraand van die 2022-parstyd ’n kleiner wyndruifoes, hoofsaaklik weens ’n afname in wingerdstand, hoë siektedruk en hittegolwe in sekere streke.
Dít is ingevolge die tweede van vier oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders in die derde week van Januarie aangekondig.
“Ons verwag in hierdie vroeë stadium ’n kleiner wyndruifoes vanjaar teenoor 2021,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges, wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels) uitreik.
“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is oor ’n groot aantal verbouingsgebiede oor die Wes- en Noord-Kaap heen versprei, met dikwels uiteenlopende klimaatstoestande. Vanweë hierdie variasie word die oes in sekere streke opwaarts en ander afwaarts geskat,” sê Conrad.
Die oes word in die meeste wyndruifverbouingstreke kleiner geskat, met die uitsondering van Stellenbosch, die Kaapse suidkus en die Klein Karoo. Conrad skryf die algehele afname in die 2022-wyndruifoes toe aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap-, Olifantsrivier- en Robertsonstreke, tesame met hoë donsskimmel- en witroesinfeksies in sekere streke.
Die rypwordingsperiode was koeler as gewoonlik, maar hittegolwe in Desember en Januarie het wingerde plek-plek onkant betrap en sonbrandskade aan druiwe veroorsaak.
Wyndruifprodusente het andersins ’n uitstekende seisoen beleef.
Winterstoestande was uitstekend, gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue eenhede – soos weerspieël deur gereelde sneeuneerslae op bergpieke – saam met ’n hoër as gewone reënval wat grondwatervlakke aangevul het. Weens ’n koel, nat lente was bot algeheel sewe tot 14 dae later as gewoonlik, maar deurgaans egalig. Die koel weer het ook aanvanklike groei vertraag, maar die meeste wingerde het in blomtyd ingehaal en tot vyf dae later as gewoonlik geblom.
“Groot opwinding heers in parstyd, en ons sien daarna uit om voort te bou op die uitstekende gehalte wyndruiwe en wyne wat ons jaar ná jaar in die wingerde en kelders sien,” sê Conrad. “Ons wens al ons produsente, wynmakers, wingerdboukundiges en hul spanne alle sterkte toe vir ’n voorspoedige 2022-oes.”
Intussen het Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof, by dié liggaam se jaarlikse inligtingsdag gesê dit gaan ’n paar jaar neem vir die bedryf om van die pandemie te herstel. “Die wynbedryf word steeds deur moeilike werklikhede in die gesig gestaar, terwyl ondernemings van die nagevolge van Covid-19 herstel. Glastekorte, uitvoer- en invoer-uitdagings by die Kaapstadse hawe, die kontras tussen ’n styging van 15% in plaaskoste-inflasie en ’n 3- tot 5%-wynprysstyging, sowel as ’n groeiende onwettige mark, is van die kwessies wat ’n wesenlike uitwerking op die hele wynwaardeketting het.”
Wynondernemings het weens die noodsaaklikheid vir die bedryf om te herleef, herstel en herbou, ’n kopskuif begin maak oor die manier waarop hulle sake doen en bedryfsinisiatiewe wat ten doel het om die bedryf meer aanpasbaar, lewenskragtig, mededingend en volhoubaar te maak, word gouer uitgerol.
Ondanks dié uitdagings het wynondernemings voortgebeur. Die bedryf het dit reggekry om die ongekontrakteerde wynvoorraad van 200 miljoen liter aan die einde van 2020 tot 60 miljoen liter teen die einde van einde 2021 te verminder deur wyndruiwe aan druiwesapkonsentraat toe te ken. Dit kan saam met ’n kleiner wyndruifoes afwaartse prysdruk verlig. Wyn-uitvoervolumes en -waarde het ook in 2021 goed gegroei, veral in tradisionele markte soos die VK.




