Suid-Afrika se 2022-oesjaar sal verbruikers beïndruk met uitsonderlike wyne, ondanks ’n ietwat kleiner druiwe-oes as in 2021, lui die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag.
Die 2022-wyndruifoes word op 1 378 737 ton geraam, volgens ’n skatting deur die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels) op 25 Mei. Dit is 5,5% kleiner as die 2021-oes, maar steeds groter as die vyfjaargemiddelde van 1 346 024 ton.
2021-’22-groeiseisoen
Die meeste streke het genoeg water gehad om na-oes-besproeiing en kunsmis toe te dien. Blaarval het om en by die gewone tyd in Mei plaasgevind, en die meeste produsente het hul dekgewasse ietwat later as normaal geplant.
Wintertoestande was uitstekend, gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue eenhede en gereelde sneeuval op hoogliggende gebiede van die Kaapse Plooiberge.
Die meeste wyndruifverbouingstreke het bogemiddelde reënval ontvang, wat grondwatervlakke aangevul het, met die uitsondering van die Noord-Kaap, wat ’n somerreënvalstreek is.
Bot het as gevolg van ’n koel, nat lente in die algemeen sewe tot 14 dae later as gewoonlik plaasgevind, maar was deurgaans goed en egalig.
Die koel weer het ook aanvanklike lootgroei vertraag.
Die meeste wingerde het teen blomtyd begin inhaal – sowat vyf dae later as gewoonlik.
Set het teen ’n goeie tempo plaasgevind en was meestal gelyk. Lote en blare het sterk begin groei namate temperature in Desember gestyg het.
Dit het bykomende lowerbestuursaksies soos blaarverwydering, tip en top volgens groei per streek, kultivar en wyndoelwit genoodsaak.
Ná ’n koel aanloop tot die seisoen het skielike hittepieke in Desember en Januarie sonbrandskade op druiwe in sekere streke tot gevolg gehad. Terselfdertyd het ander streke onverwagte reënval ervaar, wat gelei het tot hoë siektedruk en uitdagings om die uitwerking van donsskimmel en witroes tot die minimum te beperk.
Parstyd is in die algemeen met tien tot 14 dae vertraag. Aangesien temperature gedurende die res van die seisoen matig gebly het, het wingerde hul tyd geneem om optimale rypheid te bereik.
Oorsig oor plaaslike streke Breedekloof
Die 2022-seisoen was laat en uitgerek en sal onthou word vir uiterstes, insluitend ’n koel groeiseisoen en ’n skielike hittepiek in Februarie.
Robertson
Hoewel kleiner as die rekordoes van 2021, dui hierdie oesjaar steeds op bogemiddelde gehalte en opbrengste.
Die seisoen was lank en uitgerek, met verskeie uitdagings, maar produsente was bevoorreg en het voldoende besproeiingswater gehad.
Worcester
Die 2022-oes het weens ’n koel groeiseisoen later as gewoonlik begin. Die opbrengs was kleiner as in 2021, maar steeds bogemiddeld vir die streek. Wyngehalte lyk belowend en verbruikers kan uitsonderlike rooiwyne verwag.





