Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) pak die probleem van straat- en bosslapers aan deur hulle weekliks te verwyder indien hulle op onvanpaste plekke slaap.
Standard het verlede jaar berig inwoners en sake-eienaars kla dat straatslapers in Worcester en in Rawsonville probleme in hul gemeenskappe skep. Van die klagtes het ontlasting op sypaadjies, dwelmgebruik, betrokkenheid by misdaad en aggresiewe gedrag ingesluit.
Dit is ‘n moeilike saak om aan te pak omdat van dié mense nie ‘n ander heenkome het nie. Sommiges het wel familie om by te woon, maar verkies glo om op straat te leef.
Die BVM het verlede jaar aangedui hulle is op soek na ‘n vennoot om ‘n oornag-fasiliteit op die been te bring.
“Daar is ‘n skuiling in Worcester wat gewillig is om die straatslapers te huisves. Van die mense vind dit egter moeilik om daar in te skakel. Om hierdie rede het die munisipaliteit diensverskaffers genader om te kwoteer vir ‘n meer permanente oplossing vir die behuisingsprobleem. Ongelukkig was die terugvoer van die diensverskaffers nie waarvoor ons gehoop het nie. Dit kan dus ‘n ruk neem voordat die probleem opgelos kan word,” het Hannelie Botha, ‘n woordvoerder vir die munisipaliteit, gesê.

Standard het in September verlede jaar berig dat die BVM deur sy behuisings- en menslike nedersettingsafdeling op soek is na ‘n vennoot wat met haweloses werk en oornag-fasiliteite asook ‘n plek waar individue geassesseer kan word, kan verskaf.
Die doel is dan om na opsies soos hervestiging, repatriasie of die verwysing na ‘n geskikte instansie te kyk. Dié organisasie moet verkieslik ‘n gevestigde nie-regeringsorganisasie of organisasie sonder winsoogmerk wees.
“Die BVM is ook tans in gesprek met die Swartland-munisipaliteit – nie net oor die straatslapers nie, maar ook oor ander wetstoepassingsfunksies. Die rede waarom ons met die Swartland-munisipaliteit hande vat, is omdat hulle sekere dienste kan lewer wat die BVM óf nie kan lewer nie óf nie die kapasiteit voor het nie. Swartland kan byvoorbeeld hul honde-eenheid beskikbaar stel indien nodig, omdat die BVM nie so ‘n eenheid het nie. Hierdie onderhandelinge gaan steeds voort, maar die BVM het reeds ‘n diensvlakooreenkoms aan hulle gestuur en wag op terugvoer,” het Botha gesê.
Wat die straatslapers in Rawsonville betref, is die BVM daagliks besig met hulle en probeer hulle oortuig om na hul huise terug te keer. “Ons beplan om die hulp van sosialeontwikkelingsagentskappe te kry om ons hiermee te help.”
Die regte prosedure om klagtes aan te meld moet gevolg word en griewe moet nie net op Whatsapp-groepe gelug word nie.
Volgens Botha kan klagtes aangemeld word by die BVM se kliëntedienssentrum by 0860 12 12 12 of ssc@bvm.gov.za.




