Die kinders het hulle vergaap aan die miniatuur- weergawes van die meubels in die vertrekke van die pophuis.

Selfs al is daar duisende kilometers tussen haar en ‘n gemeenskap waarvoor sy baie omgee, beraam Emily Cherry planne hoe sy die lewe van die kinders in Scherpenheuwel buite Worcester kan verbeter.

Cherry is op die plaas Applegarth in Grabouw gebore en bevind haarself deesdae in Engeland. “Ek het nog altyd ‘n begeerte gehad om sendingwerk onder plaaskinders te doen,” het sy vertel. “Ek het in Mei 2022 die geleentheid gekry om na ‘n plaas in die Scherpenheuwel-gebied te gaan.” Sy het ‘n byeenkoms gereël om na die gemeenskap uit te reik en dadelik besef daar is baie uitdagings.

“Terug by die huis het ek oor en oor na die foto’s van die byeenkoms gekyk en sien toe hoewel die saal mooi versier was, die muur plek-plek gemuf was.” Sy het besluit om te reël om die saal, kombuis, twee buitekamers en badkamers te laat verf. ‘n Wasbak is ook in die mans se badkamer ingesit.

“Die kinders het ‘n plek nodig waar hulle kan speel en opvoeding ná skool kan ontvang.” Sy het navraag oor ‘n leë huis gedoen waar sy graag wou hê iemand moes vir die kinders aktiwiteite aanbied. Een Vrydagaand, toe ‘n sendeling uit Australië ‘n diens in ‘n nabygeleë saal sou hou, het ‘n sterk wind opgesteek en ‘n boom langs die huis omgewaai. Groot skade is aan die huis se dak aangerig. Cherry het besluit dit is ‘n teken dat die huis nie die regte plek is om die kinders te help nie.

Sy het ‘n groot pophuis laat maak, wat verlede jaar in die gemeenskap se saal opgerig is.

“Ek was as kind nie bevoorreg genoeg om ‘n pophuis te hê nie en ek wou dit graag vir die kinders doen.” Tydens haar besoek het sy ook vir die kinders se welstand by die bushalte waar hulle wag om skool toe te gaan, gaan bid.

Die pophuis het 16 klein vertrekkies – met ‘n sitkamer, kombuis, slaapkamers en ‘n badkamer en al.

Dit het selfs ‘n miniatuur-weergawe van ‘n toilet en ‘n strykplank. In dié huis woon ‘n pop-gesinnetjie van vyf mense.

Die pophuis is te sien vir kinders én grootmense.

“Die kinders was baie opgewonde toe ek die pophuis die eerste keer vir hulle wys. Hulle het gelag oor die toiletpapier, die twee KFC-bakkies wat op die kombuistafel staan en die katte. Ons het twee geseënde ure saam met die kinders deurgebring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article