Vuurwarm krieketaksie is op die afgelope Saterdag (10 Januarie) op Bolandpark in die wedstryd tussen Worcester United A3 en Korrektiewe Dienste opgedis.
United A3 – propvol jong talent – het van die begin af die oorhand gehad nadat Korrektiewe Dienste besluit het om eerste te boul. United se kolwers het die vonke op die veld laat spat en ‘n formidabele 279 lopies aangeteken. Die ster van die dag was die openingskolwer Nanto Amsterdam, wat die aanval met ‘n briljante 88 lopies (nege viere en twee sesse) gelei het. Hy is uitstekend bygestaan deur Matthew Fisher (39 lopies) en die kaptein, JP Swarts, wat ‘n stylvolle 51 lopies bygedra het.
Die vennootskap tussen Amsterdam en Fisher het tot 147 lopies gestrek voordat dit in die 28ste boulbeurt gebreek is – ‘n fondament wat die wedstryd beslis het. Vir Korrektiewe Dienste was die veteraan Ryno Hendricks die uitblinker met die bal en hy het vier paaltjies vir net 27 lopies geneem.
Korrektiewe Dienste se kolfbeurt het stadig begin, met die eerste lopies eers in die vyfde boulbeurt. Die jong spelers Reagan Thansei en Zade Amsterdam het ‘n dapper poging aangewend, maar dit was United se draaiboulers wat die verskil gemaak het. Zade Amsterdam het drie paaltjies vir 40 lopies geneem, terwyl Vaughan Jansen ‘n meesterlike vertoning gelewer het met vier paaltjies vir 37 lopies in sy nege boulbeurte.
Die aanvangspeler Elroy Bosman het met 28 lopies ‘n positiewe begin gehad, maar toe hy val, het die druk toegeneem. Die ervare Ricardo Baxter en Ryno Hendricks – albei voormalige United-spelers – het ‘n vennootskap van 63 lopies opgebou. Baxter het 27 aangeteken en Hendricks 34, maar kon nie United se aanval trotseer nie. Uiteindelik is Korrektiewe Dienste vir 164 lopies uitgehaal, wat United se oorwinning verseker het.
Hierdie oorwinning beklemtoon die diepte van talent in United se geledere – jong spelers wat ‘n indruk maak en die toekoms van Boland-krieket vorm. Met ses agtereenvolgende oorwinnings lyk A3 eenvoudig onstuitbaar.
Saterdag (17 Januarie) gaan United se A2- en A3-spanne die veld op Bolandpark aan die brand speel. Dié wedstryde begin om 10:00. Die vrouespan speel Sondag (18 Januarie) in Grabouw. – Hadley Alberts



