Rawsonville-polisie keer talle aan oor dwelms, diefstal en bedrog

Beamptes van die Rawsonville-polisie het meer as ‘n ton Eskom-kabels teruggekry.

Die polisie in Rawsonville het in Oktober ‘n groot dwelmvonds gemaak nadat hulle 2 005 Mandraxtablette en 199g tik in ‘n voertuig gevind het.

Dié ontdekking is gedoen toe ‘n voertuig op 9 Oktober net ná 21:00 die aand in Brandstraat in Rawsonville voorgekeer is. Een verdagte is op aanklagte van die besit van dwelms in hegtenis geneem. Dit volg op die hakke van twee mans van Mfuleni en Mitchell’s Plain wat in September aangekeer is nadat hulle 2 740 bossies khat in hul besit gehad het.

Nog twee mans is aangekeer nadat die polisie op Maandag 20 Oktober altesaam 1,6 ton Eskom-kabels in hul besit gevind het. Die kabels is deur Eskom as sy eiendom geïdentifiseer.

Die Rawsonville-polisie het ‘n man aangekeer nadat duisende Mandrax-tablette by hom gevind is. Op die foto is konst. Danwinn du Toit, AO August Willemse, sers. Abie Monaila, konst. Bernelle Marran, konst. Micayla van der Horst en sers. Marco Michaels.

Drie bankkaart-bedrieërs is in hegtenis geneem nadat skote vroeër in Oktober langs ‘n krieketveld, waar laerskoolkinders krieket gespeel het, geklap het.

Volgens Vivienne Hurling-Jordaan, ‘n woordvoerder van die Rawsonville-polisie, het sy en nog ‘n beampte Rawsonville se strate tydens die uitbeta­ling van maatskaplike toelaes gepatrolleer toe ‘n egpaar hulle voorkeer. Hulle is ingeloop deur iemand wat aangebied het om hulle by ‘n kitsbank te help, maar toe met hul bankkaart verdwyn het.

Enkele minute later is geld uit hul rekening onttrek. Hulle het dadelik na ‘n polisiebeampte gesoek toe hulle die SMS-boodskap van die bank af oor die onttrekking kry.

“Hulle kon ‘n deeglike beskrywing gee en ons het die verdag­tes agternagesit toe ons hulle opspoor. Hulle het in die rigting van Worcester gevlug en ons het die Worcester-polisie om bystand gevra,” het Hurling-Jordaan gesê. Die drie mans is kort daarna aangekeer.

“Ons moedig inwoners aan om, indien hulle voorvalle by die polisie aanmeld, deeglike beskrywings van die verdagtes te gee. Dit help dat ons hulle maklik kan opspoor. Moenie net noem watter kleur hemp hulle aangehad het nie, want dit kan uitgetrek word. Kyk na lengte, gelaatstrekke en sulke besonderhede,” het sy aangeraai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article