Weskus-polisie arresteer agt oor gesteelde rooigety-kreef ter waarde van bykans R250 000

Polisiebeamptes besig om die gekonfiskeerde kreef te tel. Foto: SAPD
Polisiebeamptes besig om die gekonfiskeerde kreef te tel. Foto: SAPD

VELDDRIF/ELANDSBAAI – In die vroeë oggendure van Donderdag 26 Februarie (omstreeks 02:15) het lede van die Weskus-polisie ‘n groot klomp onwettige Weskus-kreef ontdek waarna agt mans in hegtenis geneem is.

Die gebied is sedert  ʼn rooitgety in Elandsbaai op Woensdag 25 Februarie afgekondig is, intensief gepatrolleer en padblokkades oral op roetes uit die dorp uitgevoer.

Van die kreef wat ongewettig op Elandsbaai se strand geoes is. Foto: SAPD

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikwoordvoerder van die Weskus-polisie, het die Elandsbaai-polisie reeds Woensdag ‘n vroeë waarskuwing uitgereik oor die rooigety-besoedeling en die verskeie wetsoortredings wat kan voortspruit as mense krewe sonder ‘n permit besit. “Ons het die gemeenskap gewaarsku om nie aan die verkeerde kant van die wet te beland nie,” sê Helfrich.

Polisielede, saam met verskeie ander rolspelers, was by ‘n brug op die Elandsbaai-pad gestasioneer toe twee voertuie teen hoë spoed verby hulle gejaag het.

Een voertuig, ‘n silwer Kia Picanto, het in ‘n sypad verdwyn en die aangrensende stasies is onmiddellik gewaarsku. Die ander voertuig, ‘n Nissan-bakkie is agtergevolg, maar weens digte mis is dit tydelik uit die oog verloor.

Die bakkie is later langs die pad na Velddrif gevind. Met die polisie se aankoms het vier mans in verskillende rigtings laat spaander en net ‘n 83-jarige man het in die bakkie bly sit. Hy is ondervra, waarna die voertuig deursoek en daar afgekom is op ʼn polisiebeampte se identiteitskaart.

Die ander vier verdagtes is later opgespoor en met behulp van ‘n privaat hommeltuig in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op 418 heel krewe, een kreefstert en ‘n seekat met ‘n geraamde waarde van R209 150.

Die vyf verdagtes, die 83-jarige man en sy twee seuns van 53 en 46 jaar oud, sowel as twee ander mans van 26 en 20 jaar oud, verskyn op Vrydag 27 Februarie in die Laaiplek-landdroshof op Velddrif.

Hulle word aangekla van besit van Weskus-krewe sonder ‘n permit. Die bakkie én die verdagtes se selfone is gekonfiskeer.

Die Kia Picanto is by drie van die verdagtes gekry. Foto: SAPD
Die Kia Picanto is by drie van die verdagtes gekry. Foto: SAPD

Nog ‘n voertuig, ‘n silwer Kia Picanto, wat van die pad verdwyn het, is later in die Elandsbaai-gebied gevind.

Drie mans, onderskeidelik 67, 54 en 26 jaar oud, is in hegtenis geneem met 15 hele Weskus-krewe, 253 ondermaat krewe, 103 kreefsterte en 5 kreefkoppe, ter waarde van R33 840. Hulle sal in die Piketberg-landdroshof verskyn.

Self net 'n gedeelte van 'n kreef kan iemand skuldig aan 'n oortreding maak. Foto: SAPD
Self net ‘n gedeelte van ‘n kreef kan iemand skuldig aan ‘n oortreding maak. Foto: SAPD

Helfrich het beklemtoon dat hulle vasbeslote is om die onwettige rooigetybedryf te bestry, en dat sulke teenmisdaadoperasies noodsaaklik is om mariene hulpbronne te beskerm en die veiligheid van die gemeenskap te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article