Weskus ouers lug hul mening oor skoolsluiting weens storms


Skole in die Wes-Kaap en die Weskus se deure sal môre gesluit wees weens slegte weerstoestande.

Dit kom ná ’n besluit wat deur die Provinsiale Rampbestuursentrum en die Suid-Afrikaanse Weerdiens geneem is. In die Weskus word dié besluit deur baie ouers verwelkom.

Die strand voor Paternoster toe met skuim weens stormagtige waters. Foto: Danie Hefers
Die strand voor Paternoster toe met skuim weens stormagtige waters. Foto: Danie Hefers

Esmarelda McKay, wat ook kinders in skole in die Weskus het, stem saam met die besluit om skole te sluit.

“As aktivis en ma glo ek kinders se veiligheid moet altyd eerste kom. Geen opvoeding is belangriker as ’n kind se lewe of welstand nie. Met die gevaarlike weerstoestande, oorstromings en koue is dit beter om voorsorg te tref eerder as om later spyt te wees.”

McKay sê sy is baie bekommerd oor die veiligheid van kinders in dié weer, veral dié wat lang afstande skool toe moet stap of vervoer gebruik wat nie veilig is in die swaar reën en storms nie.

“Ons moet ook dink aan kinders wat uit kwesbare gemeenskappe kom waar huise reeds deur die weer geraak word. Ek dink die departement het wel probeer om vinnig op te tree, maar daar is altyd ruimte vir beter en vinniger kommunikasie met ouers en skole. In sulke noodsituasies moet inligting duidelik, betyds en toeganklik wees sodat ouers voorbereid kan wees,” voeg sy by.

Sophia Smit, ’n inwoner van die Yskor-buurt in Vredenburg, voel alhoewel sy met die besluit om skole te sluit saamstem, dat die departement baie stadig opgetree het en dat druk vroeër geplaas moes gewees het.

Met die slegte weerstoestande is Smit bekommerd oor die veiligheid van kinders en vrees sy vir beserings en die moontlikheid dat kinders siek kan word.

Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid van Vredenburg, sê die besluit van die departement om skole as veiligheidsmaatreël te sluit, word hoog aangeslaan deur gemeenskappe.

“Die kommunikasie, alhoewel dit ter elfder ure gekommunikeer is, is wel ontvang. Daar heers steeds kommer oor hoekom hierdie skrywe, wat duidelik geformuleer was op 5 Mei, skole in die Weskus, of meer spesifiek Saldanha, eers vandag bereik het.

“Weersvoorspellings word dae, indien nie maande nie, vooruit deurgegee. Almal het geweet van die drastiese weersverandering wat oor die komende paar dae te wagte is. Is die voorsorgmaatreëls voldoende? Sal leerlinge, veral hoërgraadstudente, dalk nie baie belangrike kontakonderrig misloop nie? Wat het die skole in plek om genoemde kwellings aan te spreek?”

Van Wyk voeg by dat ’n artikel in Newsweek, gedateer 6 Januarie 2026, verklaar dat skole in gebiede soos Michigan en Wisconsin vir ’n dag gesluit is, met die kennisgewing dat daar vir die duur van die storms na aanlyn onderrig oorgeskakel sou word.

“Ons moet self dié voorbeeld volg. Ons departement moet gebeurlikheidsplanne vir die hele winterseisoen in plek hê. Tuisbly is goed, maar ’n student wat tuis besig is met skoolwerk, is beter.”

David Maynier, Wes-Kaapse minister van onderwys, voeg by dat hul standaardposisie is om skole altyd oop te hou en skole slegs in uitsonderlike omstandighede te sluit.

“Ons is bewus van die erns van die waarskuwings wat in plek is. Ons sal die situasie voortdurend monitor en evalueer om te verseker dat skole so gou as moontlik kan heropen, wat tans na verwagting op Woensdag 13 Mei sal wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article