'n Polisiehond. Foto: Integrated Emergency Response
‘n Polisiehond. Foto: Integrated Emergency Response

Die Weskus se honde-eenheid (K9) is dringend op soek na honde, veral Border Collies, Duitse herdershonde, Cocker Spaniels, Labradors, Belgiese herdershonde, Malinois, bloedhonde en Rottweilers.

‘n Lid van ‘n polisie-honde-eenheid (K9). Foto: SAPS

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, maak die K9-eenhede werklik ‘n verskil in wetstoepassing. “Hul uitstekende werk is die moeite werd om te erken, want hierdie hoogs opgeleide hondespanne speel ‘n belangrike rol in die handhawing van openbare veiligheid en orde.

“Hulle bied ‘n ekstra laag beskerming vir die polisie en die publiek. Net hul teenwoordigheid kan kriminele afskrik, en die lede van die honde-eenhede én die honde is se vaardighede is noodsaaklik in hoërisiko-situasies.”

Die band tussen die honde by K9-eenhede en hul hanteerders is noemenswaardig. Hierdie vennootskappe is gebou op vertroue, opleiding en wedersydse respek wat hulle in staat stel om effektief saam te werk in uitdagende situasies.

“Die publiek kan deel wees deur ons helde te ondersteun deur ‘n hond aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens te skenk en daardeur help om ‘n verskil in ons gemeenskappe te maak. Deur  ʼn hond te skenk help jy om misaad te voorkom, soek- en reddingsoperasies meer effektief te kan doen en om die gemeenskap te beskerm,” het Helfrich gesê.

Die honde moet tussen 9 maande en 2 jaar oud wees, nie  ʼn kruising wees nie, vol selfvertroue, nie bang vir mense nie en in staat wees om aan ‘n leiband te loop. Hulle moet ook en opgedateerde veeartsenykundige boekies hê met alle inentings op datum.

Die honde sal gebruik word as patrollie-, narkotiese-, plofstof-, spoorsny-, beskermde spesies-, skaap-, brandopsporings- en soek- en reddingshonde.

Polisiehonde word na die polisie se veeartsenykundige dienste geneem, ondersoek, ingeënt en met ‘n mikroskyfie gemerk. Dan word hulle vir 21 dae in kwarantyn geplaas waarna sosialisasie volg. Hulle word dan onderwerp aan ‘n voor-opleidingsprogram, getoets deur ‘n paneel kundiges en opgelei. Hulle word eers hierna operasioneel ontplooi.

Ongeskikte honde sal aan die eienaars terugbesorg word.

Hoe om  ʼn hond te skenk

Bel die Weskus-honde-eenheid op Saldanha by 022 714 3167 of alternatiewelik 082 522 3266. ‘n Afspraak sal gemaak word om die hond by die skenker se huis te toets en indien die hond geskik is, sal ‘n kontrak geteken word.

“Jou bydrae sal ‘n beduidende impak hê,” het Helfrich afgeëindig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article