Annaleen van Coller, oorspronklik van Melkbosstrand, het vir 28 jaar Kersmarkte gedoen en wou ná sewe maande in Jacobsbaai graag iets vir Jacobsbaaiers doen.

Sy het besluit om die klein Weskusdorpie se straathoeke te verfraai en die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se burgemeester, André Truter, genader.

Die SBM het egter nie enige finansiering vir haar idees gehad nie, toe kry sy maar die nodige toestemming by Truter en begin saam met twee werkers om die dorp op te kikker.

Van Coller het ‘n paar duisend rand in die projek belê. Terwyl hulle gewerk het, het sy by plaaslike inwoners hulp gevra en met hul bydraes het sy die projek met vier werkers voltooi. Sy het kilometers afgelê om plante, klippe en water na die dorp aan te ry.

Sy was so oneindig dankbaar vir Green Bins se skenking van ‘n drom waarin hulle allerhande vullis kon gooi.

Een van die inwoners het ook sy sleepwa beskikbaar gestel, omdat Van Coller net ‘n Fortuner het en nie ‘n bakkie gehad het nie.

‘n Ander inwoner in die gemeenskap het tot hul redding gekom met die skenking van ‘n waterkar, maar Van Coller en haar span sukkel nog om water te kry en is op soek na gryswater om ‘n 700-liter tenk vol te maak. Vir die gruisklip het hulle ‘n groot skenking van Holvlei en die SBM ontvang.

Met Swartriet Farm se komposvoorsiening en Pixie Fairyland se bootjiegeskenk, wat herstel en geverf is, was hulle reg vir aksie. Die projek het oor vier maande gestrek, waarin sy elke dag saam met die werkers gewerk het.

Die grond was hard en hulle moes letterlik elke gat vir plante eers met ‘n pik kap. Dit was omtrent klipperig, vertel Van Coller.

Sy is trots op die Jacobsbaaiers wat tot die projek bygedra het; sy sou dit nie sonder hulle kon doen nie. Die projek se naam is “Maak Jacobsbaai mooi”.

Van Coller het nie besef hoe groot die projek gaan wees en dat sy nou verantwoordelik is vir die instandhouding daarvan nie. Hulle is nou besig met “Adopt a Garden”, waaroor sakeondernemings van die dorp wat belangstel, haar by 084 337 0117 kan kontak. Borge se naamborde sal in die tuine wat hulle “aanneem”, pryk, maar hulle sal ook verantwoordelik wees vir die versorging van daardie tuin.

As iemand met gryswater kan help, kontak Van Coller asseblief; die plante kry swaar. “Dit is lekker om die dorp te verbeter en ‘n verskil te sien,” en die inwoners is baie dankbaar dat hulle ‘n verbetering in hul omgewing ervaar.

Van Coller is net bly sy kon ‘n verskil maak in Jacobsbaai, al is dit net ‘n druppel aan die emmer.

Die omgewing rondom dié Jacobsbaai-bordjie is met vetplante verfraai en is nou iets om te aanskou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article