Die Noordhoek-sakesentrum in Albatroslaan.

Vrae oor Noordhoek-koste


Vrae oor die boukoste van die nuwe ablusiegeriewe by die Noordhoek-sakesentrum in Albatroslaan, Velddrif, is onlangs aan Weslander gerig. Die leser beweer onder meer die geriewe is teen sowat R650 000 opgerig. Hy meen die huidige markverwante boukoste wissel tussen R9 000 en R15 000 per m², terwyl die koste van die Noordhoek-sakesentrum se geriewe volgens sy berekening ongeveer R21 000 per m² beloop.

Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) het op navrae gereageer en verduidelik dat die ablusiegeriewe nie ‘n afsonderlike projek is nie, maar deel van die groter Noordhoek-­sakesentrum-ontwikkeling, en is ‘n uitbreiding van Fase 1 van die projek.

Die BM sê die ontwikkeling is daarop gemik om ‘n volhoubare sakekern te vestig, wat ekonomiese groei bevorder en klein, medium en mikro-ondernemings in Noordhoek ondersteun. Die ablusiegeriewe is volgens die munisipaliteit noodsaaklike infrastruktuur vir die doeltreffende werking van die sakesentrum.

Die projek is oor die 2024/25- en 2025/26-boekjare voltooi en is hoofsaaklik deur die streek- sosio ekonomiese projekte-­toelaag gefinansier. Volgens die BM is R2,9 miljoen aan provinsiale finansiering ontvang, terwyl die raad ook R300 000 van die munisipaliteit goedgekeur het.

Die algehele koste van die Noordhoek-­sakesentrum-ontwikkeling beloop volgens die BM R3 075 585, BTW ingesluit. Die kontrak vir die bou van die ablusiegeriewe is toegeken teen R658 392,81 (BTW ingesluit).

Die BM stem nie saam met die bewe- ring dat die boukoste buitensporig hoog is nie, en sê die kontrakbedrag behels die oprigting van ‘n volledige openbare ablusiefasiliteit, nie net die installering van toilette nie. Die werk het onder meer terreinvoorbereiding, uitgrawings, betonwerk, messelwerk, metaalwerk, loodgieterswerk, water- en rioolaansluitings, waterdigting, dakwerk, verfwerk, skrynwerk, binnetoerusting en voldoening aan bou- en veiligheids­vereistes sowel as toilette, wasbakke en roldeure ingesluit. Wat die tenderproses betref, sê BM die projek is volgens die munisipaliteit se voorsienings­kanaalbestuursbeleid toegeken.

Nadat die vereiste prosesse afgehandel is, is die tender op 25 Mei 2026 aan Teamwork RL vir R658 392,81 toegeken.

Die munisipaliteit sê alle aanstellings is volgens toepaslike wetgewing en die goedgekeurde voorsieningskanaalbestuursbeleid gedoen.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 August 2026
    Weslander E-Edition – 6 August 2026

Gift this article