Die tweede ronde van die Weskus se Grootuitdaagbeker-wedstryde het die afgelope Saterdag (20 Junie) op verskeie velde in die Weskus afgeskop. Vir Reuben Abels se span, Young Hearts, wat vir Hopefield gasheer in die eerste ronde op die Grafkelder gespeel het, was dit ‘n eerste uitdaging in die tweede ronde, teen ‘n tuisspan in sy agterplaas.
Young Hearts, wat oor die jare bekend geword het as ‘n span wat tot die laaste minuut speel, het weer Saterdag getoon dat hy sy reputasie gestand doen toe hy die tuisspan ná 40 minute in die eerste helfte op die agtervoet gehou en met 25-17 afgesluit het, wat hulle ‘n voorsprong van agt punte voorsien het.
Hearts het ná rustyd die spel gelig en ‘n groot voorsprong van 37-17 opgebou en die tuisspan met goeie konstruktueerde spel laat steier.
Hopefield se deursettingsvermoë in die laaste 15 minute het vrugte afgewerk toe hulle ‘n 20-punt-agterstand uitgewis en tot net drie punte verminder het.
Net rotsvastige verdediging het verhoed dat Hopefield die knoop deurhaak en met drie punte kort geval het toe die skeidsregter die eindfluitjie blaas. Hoewel Hopefield daarin geslaag het om die groot agterstand na drie punte te verminder, is hulle vir ‘n tweede keer deur Hearts geklop. Met die oorwinning het Hearts sy aanspraak op die die titel van die Weskusstreek lewendig gehou en na die derde plek opgeskuif.
◘ Op Piketberg het die tuisspan sy ondersteuners laat glimlag toe hy vir Velddrif met 48-46 geklop en gewys het hy is reg vir die tweede ronde.
◘ Langebaan het het ook ‘n naelskraap- oorwinning oor Paternoster behaal toe hy met 34-31 as oorwinnaar van die veld stap en sodoende sy vlam in die Weskus laat gloei.
◘ In die tweede derby-stryd tussen Saldanha Tigers en Saldanha het die twee buurspanne mekaar in Diazville gepak en daar was baie min ooghare tussen dié twee. Saldanha het met sy beter balbesit daarin geslaag om die voortou te neem, met rustyd wat met ‘n voorsprong van 19-10 aanbreek het. Hoewel Tigers in die tweede helfte meer aanvalle op Saldanha se doelyn geloods het, kon hulle slegs een keer Saldanha se doellyn oorsteek.
Saldanha het sy ervaring getoon en sy seniorskap oor Tigers gedemonstreer toe hy nog 22 munte byvoeg en die tweede derby-stryd met 41-17 gewen het. Saldanha het seker gemaak dat hy die Saldanha-kroon vir 2026 dra en ook sy voorsprong bo Vredenburg en St. Helenabaai verder vergroot.



