Die gemeenskap van Velddrif het soos een man saamgekom om ‘n rietdakhuis wat Donderdagaand (18 September) aan die brand geraak het, te probeer red.

Volgens Madelie van Tonder, ‘n advertensie-verteenwoordiger van Weslander wat op die toneel was, het die bure, ander inwoners, die brandweer, die polisie, die buurtwag, ingespring om groot gaskanne by die huis te verwyder voordat dit kon ontplof.
Almal het ten spyte van die rook gehelp om ‘n klein boot van die perseel af te stoot, sodat dit darem behoue bly.
Raadslid Johan Moolman het ook heelnag gehelp.
Maar, die huis wat aan die Bergrivier se kant van die pad voor ‘n mens De Plaat kry geleë is, het ongelukkig tot op die grond afgebrand.
Die vermoede bestaan dat die eienaars dalk van die Paarl is, maar dit kon nog nie bevestig word nie.
Wat Van Tonder veral aan die hart geraak het, was die ure wat almal onbaatsug ingesit het om te probeer help.
Brandweerspanne van Velddrif, die Bergrivier-munisipaliteit, die Weskus-Munisipaliteit en selfs Saldanhabaai het kom help.
Moolman het sy simpatie met die gesin se verlies op ‘n WhatsApp gedeel.






You must be logged in to post a comment.