‘n Idee tussen vriende vir ‘n podcast het ‘n werklikheid geword en is tot dusver ‘n reuse-sukses.
Franklin Lotz van Langebaan, het sy podcast, Die Vermaak en Praat-podcast, in 2023 begin nadat hy en twee vriende, die broers McNeal en wyle Ryan Samuels, besluit het om hierdie idee vir ‘n toetslopie te neem.
Dié inwoner van Langebaan het Esmarelda McKay, bekend as Mizz E van Saldanha, aan boord gebring en hul eerste episode met Julian Tshepo, bekend as Boera Julz, is vrygestel.

Volgens Lotz is die doel van die podcast om mense te wys enigiets is moontlik as jy hard werk en tyd insit. “My visie vir die podcast is om die volgende generasie te inspireer deur hulle te wys ons mense kan en die podcast kan landwyd ‘n invloed in lewens hê.”
McKay sê hulle wil die stem vir die stemlose wees en gesprekke oopmaak. “Die visie is om ‘n platform te bou wat nie net vermaak nie, maar mense opbou, opvoed en verbind. Ons fokus op ware stories, eerlike gesprekke, gemeenskapsontwikkeling, jeug kwessies, verhoudings, geloof en soms net goeie lag en vermaak. Ons wil hê mense moet sien dat hulle nie alleen is nie en dat hul stories krag dra.”
Ná sy verskyning as gas het Tshepo ook as aanbieder by Die Vermaak en Praat-podcast aan- gesluit. Hy wil sien hoe mense se lewe en denkwyse verander en hulle geïnspireer word om hul outentieke self te wees.
Die Vermaak en Praat-podcast het al bekende gesigte van Weskussers onthaal, soos Dolfie de Bruin, William Adams en vele meer. Vir Tshepo was sy gunsteling-gas tot dusver Bertram Vraagom van die Saldanhabaai-rugbyklub, terwyl McKay se lysie onder andere Ro Makka, Ouma June, Ziza en Gaby Loo insluit.
Wat dit vir Lotz ‘n volsirkel oomblik maak, is die episode met Tshepo, wat vir hom die begin van die groot droom was.
“Ek wil hê mense moet wegstap met inligting, inspirasie, hoop en ‘n bietjie selfrefleksie. As iemand sê: ‘Hierdie episode het my anders laat dink’ of ‘ek voel nie meer alleen nie’, dan weet ek ons het ons doel bereik. Ek wil hê mense moet onthou dat hul storie waardevol is, verandering moontlik is, en daar altyd plek is vir groei en genesing.”






You must be logged in to post a comment.