Die vraag of tweelinge of selfs drielinge in dieselfde klaskamer moet wees, was onlangs weer in die kollig.
Volgens een ouer werk sy twee kinders, wat in die laerskool is, goed saam in die skoolomgewing. Die skool het egter vanjaar besluit om die twee te skei, wat spanning vir albei kinders veroorsaak het.
Soos die ouer verduidelik, het die skeiding akademiese prestasie begin beïnvloed en selfs emosionele kwessies veroorsaak. Die ouer meen egter dit is in die kinders se belang dat albei saam in ‘n klas is veral op so ‘n jong ouderdom.
Liezel Dammon, ‘n inwoner van Vredenburg en wie se tweelingkleinkinders in gr. 5 is, meen dit is ‘n goeie idee wanneer tweelinge saam in ‘n klas is. In haar geval is dit veral nuttig omdat sy altyd weet van wat een van hulle doen en wat met hulle gebeur.
“Een van hulle sal my altyd kom vertel wat die ander deur die dag gedoen het en hulle is nie skaam om openlik van mekaar te praat nie. Op so ‘n manier weet ek presies hoe hulle hulself by die skool gedra,” sê sy.
Wanneer dit by die tweeling se akademiese prestasies kom, vertel Dammon dat hul punte gewoonlik naby aan mekaar is. “Baie kere wanneer hulle take doen, kies hulle dieselfde onderwerp en dan moet ek eers verduidelik dat hulle nie altyd oor dieselfde ding kan praat, skryf of prakties doen nie.
“In die meeste gevalle stry hulle oor dinge wat hulle al twee wil doen.”
Volgens Dammon doen die twee goed saam op skool en ‘n skeiding sal hulle gewis beïnvloed. Sy is altyd bekommerd oor hoe hulle dit eendag sal hanteer as een van hulle byvoorbeeld ‘n graad moet herhaal, maar sy glo vas in voorbereiding vir moontlike negatiewe uitkomste.
Natashia Kotzé, wat ‘n drieling op skool gehad het, sê haar kinders was op laerskool saam in ‘n klas, maar toe hulle hoërskool toe is, het hulle self gevra om in verskillende klasse te wees. “Ek dink dit het grotendeels te doen met hul unieke persoonlikhede, doelwitte en selfvertroue. Soms vergeet ‘n mens dat meerlinge elkeen ook hul eie identiteit het. Hulle is baie mededingend, maar hoewel hulle so is, is hulle ongelooflik ondersteunend en opbouend teenoor mekaar. Elkeen het sy eie unieke identiteit en al drie se persoonlikhede verskil. Hoewel elkeen hul eie mens in eie reg is en volgens hul eie doelwitte handel, het hulle ‘n baie spesiale en nou band met mekaar,” voeg sy by.
Volgens Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, bestaan geen beleid wat voorskryf of meerlinge in dieselfde of aparte klasse moet wees nie. “Sommige meerlinge floreer saam – veral in vroeë grade of in gevalle van skeidingangs. Ander trek voordeel uit aparte klasse weens ongesonde mededinging of as een van hulle op sosiale vlak oorheers.
“Die besluit om leerders te skei, is gewoonlik gegrond op ‘n onderwyser se professionele aanbevelings en hul gedragsdinamika.” Sy raai aan dat ouers direk met skole oor hierdie besluite moet kommunikeer.





