Melbourne Davids lui die skoolklok vir die laaste keer.

Met jare se ondervinding in die onderwys tree beide Terence Smith, die adjunkhoof van Panorama Primêre Skool, en Melbourne Davids, die hoof van Langebaan Primêre skool, nou af.

Smith se reis het 36 jaar gelede begin toe sy liefde vir die onderwys ontvlam het. Panorama Primêre Skool was sy eerste tuiste as onderwyser en dit is daar waar hy nie net sy roeping gevind het nie, maar ook die voorreg gehad het om leerders vir geslagte te sien groei, leer en ontwikkel. “Hierdie skool was nog altyd meer as net ‘n werkplek – dit was ‘n

familie, ‘n gemeenskap en ‘n plek waar my hart altyd sal wees,” vertel Smith.

Hy het die afgelope vier jaar die geleentheid gehad om as adjunkhoof van die skool te dien. “Hierdie tydperk was vir my nie net ‘n professionele prestasie nie, maar ook ‘n tyd van groei, leer en vervulling. Wat dié ervaring besonders gemaak het, was die ongelooflike span saam met wie ek gewerk het – ‘n dinamiese, toegewyde en passievolle groep mense wat elke uitdaging met entoesiasme aangepak het.”

Smith meen danksy die ondersteuning van dié saam met wie hy gewerk het, was die rol van adjunkhoof nooit ‘n las nie, maar altyd ‘n plesier. “Saam het ons ‘n omgewing geskep waarin leerders kon floreer en personeel mekaar kon dra. Ek sal altyd met dankbaarheid en trots op hierdie tyd terugkyk.”

Hylton Langley, die hoof by Panorama Primêr, sê Smith was meer as net ‘n onderwyser – hy was ‘n mentor, ‘n rol-

model en ‘n bron van wysheid en stabiliteit vir leerders en kollegas. “Sy passie vir leer en sy onwrikbare toewyding het ‘n blywende indruk op almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk of by hom te leer, gemaak.

Panorama Primêr sal nooit weer dieselfde wees sonder sy kalm teenwoordigheid, sy wysheid en sy bekende sin vir humor nie. Ons sê baie dankie vir jou jare van opoffering en liefde vir ons skoolgemeenskap,” voeg Langley by.

Davids, wat die afgelope agt jaar die skoolhoof van Langebaan Primêr was, se reis in die onderwys het 34 jaar gelede begin. Om die rol as skoolhoof te vervul, was ‘n hoogtepunt in sy loopbaan. “My pa is my rolmodel en om in sy voetspore te volg, was ‘n groot hoogtepunt. Die beste is natuurlik om die kinders te sien as goed gemanierde volwassenes wat goeie waardes het. Dit was ook goed om twee van ons leerders in die SA skolerugbyspan te sien. Ek het hulle op o.13-vlak afgerig. Wat ek die meeste gaan mis, is die kinders – ‘n mens raak baie geheg aan hulle.”

Davids moedig die leerders aan om te glo dat hulle kan en die onderwysers moedig hy aan om die beste opvoeders te wees wat hulle kan.

Christopher Rodgers, die adjunkhoof by Langebaan Primêr, sê hoewel Davids uit sy formele pligte tree, laat hy ‘n nalatenskap agter wat breed sowel as diep persoonlik is. “Hy het duisende lewens aangeraak – nie deur groot gebare nie, maar deur daaglikse dade van vriendelikheid, standvastige leierskap en ‘n onwrikbare geloof in die krag van onderwys om individue en gemeenskappe op te hef. Dankie, mnr. Davids, vir jou diens, mentorskap en uitstekende nalatenskap,” voeg hy by.

Smith sê in sy aftrede gaan hy rondreis en die wêreld verken en Davids wil graag nog een projek vir die skool klaarmaak, maar vir eers ‘n bietjie rus.

Terence Smith sê hy gaan die daaglikse interaksie met die leerders mis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article