STIR-Weskus-2026, aangebied deur Longacres-privaatskool in Langebaan, is jong, opkomende “sjefs” se kans om deel te neem aan ‘n kompetisie wat hul kulinêre toekoms kan verander.
Hoërskoolleerders met ‘n passie vir kosmaak, kreatiwiteit en geur word aangemoedig om vir dié nuwe streekkompetisie in te skryf. Weslander is die mediaborg van die projek.
Die kompetisie bied leerders die kans om hul vaardigheid, oorspronklikheid en liefde vir kos te wys. Deelnemers sal geregte voorberei wat hul talent en vernuf beklemtoon, terwyl die ervaring daarop gemik is om selfvertroue, tegniek en vernuwing in die kombuis te ontwikkel.
Die kompetisie bestaan uit drie fases:
• In die eerste fase moet deelnemers teen 31 Maart 2026 ‘n opname van hul kookvaardighede tuis maak en dit saam met ‘n kort opstel oor wat kookkuns vir hulle beteken, indien.
• Die wenners van dié ronde word na die tweede fase uitgenooi – ‘n kookkompetisie aan die einde van Junie 2026 by die Longacres- private skool.
Alle bestanddele word voorsien en ervare sjefs sal terugvoer en praktiese wenke gee.
• Die finaliste ding dan in September 2026 by die skool in die laaste kookstryd mee, waar ‘n bekende sjef as beoordelaar optree en die wenners aangekondig word.
Opwindende pryse wag op die topkandidate.
Deelnemers kan uitsien na waardevolle erkenning en pryse, geleenthede om by professionele sjefs te leer en blootstelling wat moontlik selfs toekomstige kulinêre deure kan oopmaak.
Sakeondernemings word ook genooi om deel te word van die inisiatief se smaakprofiel deur borgskap te oorweeg. Deur te borg, ondersteun ondernemings jongtalent-ontwikkeling, kry hulle waardevolle sigbaarheid in bemarking en mediaberigte, en bou hulle sterker bande met die gemeenskap.
Borgskappe kan finansiële bydraes, produkskenkings of selfs mentor- skaphulp insluit. Navrae kan gerig word aan stirweskus@gmail.com.
STIR Weskus wil talent, kreatiwiteit en die vreugde van kook vier. Die organiseerders nooi die hele gemeenskap om deel te wees van ‘n kompetisie wat die jong opkomende “sjefs” van die Weskus behoorlik gaan laat roer.






