ST HELENABAAI – ‘n Plaaslike skooltjie en seeredders glimlag breed ná welkome geldelike skenkings en ywerige helpende hande van inwoners en sakelui in die dorp.
Die Steenberg’s Cove-laerskool spog met sowat 280 leerlinge en vir Karyke Smit, die skoolhoof, is ‘n welkome verfprojek wat tans die skool se buitemure begin ophelder, ‘n “droom wat waar geword het.”

Karyke is sedert 2015 betrokke by die skool as onderwyser en is verlede jaar tot skoolhoof bevorder. Sy beskryf die skool as ‘n baken van hoop vir die gemeenskap.
“Die leerders, personeel én die gemeenskap in die Cove verdien ‘n skoolgebou wat ook goed, netjies en mooi lyk van buite. Dit moet iets wees waarop die gemeenskap en kinders trots kan wees,” sê Karyke.
En die dryfveer agter Steenberg’s Cove-laerskool se broodnodige en tydige verfprojek, is Jan Gibson, ‘n bekende inwoner in die Agterbaai.
Volgens Jan het die skool dringend ‘n nuwe verfbaadjie benodig en kon hy daarin slaag om ‘n ruim kontantskenking van ‘n plaaslike visfabriek in die dorp, Pioneer Fishing, te bekom. Dié geld word gebruik vir onder meer verfaankope en lone vir die twee verwers, Dawid Galant en Cheslin Abrahams. Beide woon in die Cove en beskou hulle betrokkenheid by die Cove se welkome verfprojek as ‘n eer en voorreg. “Ons doen dit vir die gemeenskap en die kinders.”
Die inwoner wat egter die breedste glimlag, is Jan Gibson. “Ek het ‘n sagte plekkie vir die skool én die gemeenskap. Respek word hier deur Karyke en haar personeel gekweek. Dit maak jou trots. Ek is opgewonde oor dit wat reeds bereik is. Die werk is nog ver van klaar, maar dit is ons skooltjie en ek is trots op dit wat nou hier gedoen word,” sê Jan.
Die plaaslike NSRI-tak in die dorp, Stasie 44, het ook goeie rede om breed te glimlag. Dié groep toegewyde seeredders het skaars ‘n week gelede ‘n kontant-hupstoot van sowat R12-duisend gekry ná ‘n fondsinsamelingprojek deur ‘n plaaslike eiendomsagentskap.
Dié jongste skenking van nagenoeg R17-duisend is gisteraand (17 Februarie) tydens ‘n funksie by Stasie 44 se basis in die dorp, aan dié bedrywige plaaslike NSRI-tak oorhandig
Die geld is in Desember verlede jaar tydens die Shelley Point-landgoed se jaarlikse Kersfeesprojek ingesamel.



You must be logged in to post a comment.