Drie afsonderlike klagtes is Saterdag tussen 18:00 en 19:00 by plaaslike owerhede aangemeld rakende ernstige ontwrigting tydens ‘n rugbywedstryd op die sportterrein in Olof Bergstraat, Redelinghuys.
Dit is bevestig dat Boland-rugby nie by die voorval betrokke was nie en dat die organisasie nie verantwoordelik gehou kan word vir wat plaasgevind het nie.
Die wedstryd was bedoel as ‘n sogenaamde vriendskaplike ontmoeting tussen die rugbyklub van Elandsbaai en die span van Paleisheuwel (Citrusdal).
Wat egter as ‘n sportgeleentheid beplan is, het vinnig in chaos ontaard toe ‘n bakleiery onder toeskouers uitgebreek het. Die situasie het só handuit geruk dat ‘n 35-jarige man van Redelinghuys genoodsaak was om twee skote met ‘n sogenaamde “blank gun” in die lug af te vuur. Volgens hom was sy optrede gemotiveer deur vrees vir die veiligheid van sy vrou en kinders, wat tydens die onluste in direkte gevaar was.

Tydens die voorval is ‘n voertuig, ‘n Volkswagen Polo Comfortline, deur toeskouers beskadig.
Die skade beloop etlike rande en word as opsetlike beskadiging van eiendom beskou. Hierdie daad het verdere spanning aangeblaas en die reeds gespanne atmosfeer op die terrein vererger.
Na afloop van die voorval het dit aan die lig gekom dat die betrokke rugbyspanne nie vooraf toestemming van die plaaslike sportowerhede of die munisipaliteit verkry het om die wedstryd aan te bied nie.
Geen behoorlike veiligheidsmaatreëls of sigbare toesig is ingestel nie, wat waarskynlik tot die chaotiese verloop van die geleentheid bygedra het.
Nóg die polisie nóg die munisipaliteit was vooraf bewus van die sogenaamde vriendskaplike wedstryd.
Volgens kapt. F.C. van Wyk, ‘n media-skakelbeampte van die Wes-Kaapse
Polisie, is bevestig dat die 35-jarige man twee skote met die “blank gun” in die lug afgevuur het. Sy voertuig is tydens die onrus beskadig. Verder is ‘n 21-jarige vrou met rugbytoks aangerand, terwyl ‘n 23-jarige man glo deur ‘n groep toe- skouers aangeval is.
Die polisie ondersoek tans twee sake van gewone aanranding en een saak van opsetlike beskadiging van eiendom. Die ondersoeke duur voort en verdere besonderhede sal bekendgemaak word sodra dit beskikbaar is.
Die voorval het ‘n donker skadu oor die plaaslike sportgemeenskap gegooi. Wat ‘n geleentheid vir sport en same- horigheid moes wees, het in geweld, eiendomskade en trauma ontaard. Beter beplanning, samewerking en nakoming van regulasies kan toekomstige voorvalle van dié aard help voorkom.






You must be logged in to post a comment.