Die skoolgemeenskap van die Weskus betreur die onlangse heengaan van Rina Brink. Sy was ‘n passievolle onderwyseres, ‘n merkwaardige onderwysleier en ‘n legendariese skoolsielkundige.

Volgens ‘n Facebook-plasing deur die Laerskool Vredenburg het sy nie net kinders, onderwysers en klaskamers diep beïnvloed nie, maar ook mense op verskeie maniere geraak. “Haar betrokkenheid en passie vir kinders en onderwysers sal inderdaad gemis word. Sy het geluister wanneer dit die meeste saak gemaak het, geglo wanneer ander getwyfel het en kinders en onderwysers herinner aan wie hulle besig was om te word,” het die skrywe verder gesê.

Anneline Niemand, ‘n jare lange kollega, sê Brink was ‘n ware juweel vir die skool. “Haar ondersteuning, hulp en liefde was vir ons ‘n standvastige en veilige padkaart in onseker tye. Haar liefde vir kinders, onderwysers, ouers en die onderwys in die breë verdien die hoogste erkenning. Sy het enige moeilike situasie uit ‘n vernuwende invalshoek benader en die uitkoms is altyd met empatie, deernis en kalmte oorgedra.”

Niemand sê hulle het altyd in Brink geglo, want haar wysheid, insig, innerlike krag en onwrikbare geloof was ‘n rigtingwyser vir almal. “Sy was ‘n fakkeldraer in donker en moeilike tye en het altyd gekies om ‘n positiewe verskil te maak. Daarom bring ons aan haar hulde en eer ons haar nalatenskap.”

Ook die Hoërskool Vredenburg het op hul Facebook-blad gedeel dat Brink met wysheid en deernis geleef het. “Haar omgee, insig en geloof in mense het ‘n blywende nalatenskap gelaat. Ons innige meegevoel aan haar familie en almal wat haar geken en liefgehad het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article