Openbare skole in die Wes-Kaap kan self bepaal of nabyheid aan ‘n skool ‘n faktor in hul toelatingsbeleid moet wees, aangesien die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) nie amptelike voedersones vir skole in die provinsie ingestel het nie.
Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, pas skole hul eie toelatingsbeleide toe wanneer hulle aansoeke oorweeg. Hierdie beleide kan nabyheid aan die skool insluit, maar dit is nie ‘n vereiste wat deur die departement self bepaal word nie.
Hammond sê ook bewerings oor wydverspreide bedrog in Suid-Afrika se skoolaansoekstelsels moet met omsigtigheid hanteer word. Die bewerings spruit uit onlangse data van TPN Credit Bureau, wat aandui dat adresbedrog ‘n groeiende probleem by openbare skole is.
Volgens die data het een skool bevind dat 40% van aansoeke vals of misleidende adresinligting bevat het, terwyl ‘n ander skool bedrog in 20% van gr.1-aansoeke geïdentifiseer het.
By ‘n derde skool het deur-tot-deur-verifikasie getoon dat 51% van aansoekers nie by die adresse woon wat op hul vorms aangedui is nie.
Hierdie praktyk kan volgens TPN voedersone-beleide ondermyn. In baie dele van die land word leerlinge wat naby ‘n skool woon, reeds daar ingeskrewe broers of susters het, of ouers het wat naby werk, gewoonlik voorkeur gegee wanneer plekke beperk is.
Hammond wys egter daarop dat die statistiek waarop die bewerings gebaseer is, slegs uit ‘n klein steekproef kom.
“Die bewering van wydverspreide be- drog in Suid-Afrika se skooltoelatingstelsel is glo gebaseer op ‘n steekproef van net drie skole, almal in Gauteng,” sê sy.
Sy beklemtoon dat die WKOD nie tans bewyse het wat die bewering van grootskaalse bedrog in die Wes-Kaap se toelatingsprosesse ondersteun nie.
Volgens Hammond bly dit skole se verantwoordelikheid om hul eie toelatingsbeleide toe te pas wanneer aansoeke oorweeg word.




