Bende-affiliasies, geweld, verbale dreigemente en dwelmmisbruik het geen plek in ons skole nie en skole moet dissiplinêre stappe instel indien leerders hul gedragskodes oortree.

Só het Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), gesê in reaksie op nóg ’n inhegtenisneming van ’n leerder by Hoërskool Weston op Vredenburg weens onwettige ammunisie en dwelms.

Dit is die derde leerder by die skool wat in hegtenis geneem is en die vyfde om in een week geskors te word.

’n Sestienjarige gr. 9-leerder van St. Helenabaai is Vrydag 25 Augustus om 11:30 in hegtenis geneem nadat hy oproerig en aggressief in sy klas geraak het, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.

Hammond het ook bevestig die leerder het aggressief teenoor onderwyspersoneel opgetree. Ingevolge die deursoek- en beslagleggingsprosedures by die skool is sy skooltas deursoek en ’n ronde R-5-ammunisie en drie sakkies dagga gekry. Die polisie is ontbied en die leerder is in hegtenis geneem.

Hy verskyn môre (Vrydag 1 September) in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en dwelms.

Hammond het gesê die leerder is geskors en ’n dissiplinêre verhoor wag ook op hom. “Ons Safe Schools-direktoraat is in gesprek met die skool oor verdere ingrypinge.”

Verlede week was die skool ook in die nuus nadat ’n 17-jarige gr. 9-leerder op Dinsdag 15 Augustus voor die skool in hegtenis geneem is. In sý skooltas is twee 9 mm-rondes ammunisie, ’n mes met ’n groen handvatsel en ’n seinfakkel gekry. Hy het verlede Woensdag (16 Augustus) in die Vredenburg-landdroshof verskyn en die saak is tot 30 Oktober vanjaar uitgestel. Die skool het hom tydelik geskors en met sy terugkeer sal ’n dissiplinêre verhoor ook op hom wag.

’n Gr.10-leerder van 18 jaar oud is ook verlede week (Woensdag 16 Augustus) in hegtenis geneem vir onder meer intimidasie. Dié beskuldigde het na bewering ’n 32-jarige onderwyser gedreig dat hy hom gaan aanrand en baie aggressief geraak toe hy aangespreek word omdat hy gedurende pouse ’n sigaret wou aansteek. Hy het glo ook op die onderwyser gevloek. Hy het verlede week in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van onder meer intimidasie.

Twee gr. 8-leerders, wat stry met ’n graad 9-leerder gekry het, is ook verlede week geskors.

“Dit is nog nie duidelik of daar ’n wapen of watter soort wapen in die onderonsie gebruik is nie,” het Hammond vroeër gesê.

Departement vat hande met gemeenskap

Hammond het benadruk die departement het simpatie met die uitdagings wat skole en hul opvoeders in die gesig staar wanneer hulle met swak dissipline gekonfronteer word.

“Ons Safe Schools-direktoraat skakel met skole oor programme vir ingryping en veiligheidsbeheermaatreëls.”

Volgens haar hou baie misdadige voorvalle en wangedrag by skole verband met kwessies by die huis of in die gemeenskap, soos bendeverwante aktiwiteite wat ’n maatskaplike kwessie is.

“Bende-affiliasie en -kultuur buite die skool kan soms die skoolgemeenskap beïnvloed, aangesien leerders by bendes betrokke raak of met maats begin kuier wat hulle negatief beïnvloed.

“Ons benodig die bystand van die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, die regstelsel, gemeenskapsorganisasies en die ouers.”

Hammond glo vas dat almal ’n rol het om te speel. Ouers se rol is ook om te verseker dat hul kinders elke dag stiptelik en voorbereid by die skool is.

“Opvoeders doen hul bes om die talle negatiewe samelewingskwessies wat na skole oorspoel, te hanteer, maar uiteindelik begin positiewe gedrag, waardes en dissipline by die huis.”

Ingevolge die Regulasies vir Veiligheidsmaatreëls by Openbare Skole van 2001 is alle openbare skole as dwelmvrye en gevaarlikewapenvryesones verklaar.

Die WKOD is deurentyd besig om programme wat help om konflik aan te spreek aan te bied, asook om werkswinkels teen bendebedrywighede, dwelmmisbruik en afknouery te hou, en om deur die “Transformeer om te Presteer”-veldtog kuberwelstand en positiewe gedrag in skole te bevorder.

Met die Safe Schools-program word skoolgeweld aangespreek deur verhoudinge tussen ouers, leerders en die breër skoolgemeenskap te bou.

Die plaaslike gemeenskap word byvoorbeeld by die skool betrek met vakansie- en naskoolse programme.

Onderwysers, ouers en leerders word opgelei om aggressiewe leerders te identifiseer en aan te spreek.

Daar word ook indringend gekyk na ’n skool se sekuriteitsinfrastruktuur soos omheining, elektroniese toegangsbeheer, diefwering, metaalverklikkers en alarmstelsels wat gemonitor word en aan ’n gewapende reaksiediens gekoppel is.

Hammond verduidelik daar word met verskeie departemente saamgewerk om die komplekse maatskaplike kwessies te probeer aanspreek wat daartoe aanleiding gee dat jongmense by bendes betrokke raak.

“Ons is onder geen illusie dat die stryd teen die bendes verhinder word deur ons erg onderbevolkte polisiekantore nie,” het Hammond gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article