Charmaine Palm skeer haar hare ter ondersteuning van kankerbewustheid. Sy het vertel dat sy heelwat familielede en vriende aan dié siekte afgestaan het.

Die nasionale Shavathon ten bate van kanker-ondersteuning het Saterdag 28 Februarie landwyd afgeskop, met inwoners van die Weskus wat hul hare en harte oopgemaak het vir ‘n saak wat byna elke familie raak.

Die jaarlikse inisiatief van KANSA vind tradisioneel in winkelsentrums plaas en gee deelnemers die keuse om hul hare te skeer of dit in ‘n kleur van hul keuse te laat spuit as teken van ondersteuning. Teen ‘n bydrae van R50 per kop word geld ingesamel wat aangewend word vir kankerhulp en hospice-instellings landwyd.

By die Weskus Mall-inkopiesentrum op Vredenburg het die hare behoorlik gewaai onder die skêr van haarkapster Joanne Bester, die bemarkingsbestuurder, terwyl ondersteuners tougestaan het om deel te wees van die dag se verrigtinge.

Ian Adonis van KANSA Paarl was saam met ‘n span vrywilligers teenwoordig om die geleentheid te ondersteun. Adonis, ‘n afgetrede logistieke bestuurder, is die afgelope ses maande by KANSA Paarl betrokke en sê die gemeenskap se ondersteuning maak ‘n tasbare verskil.

“Elke kop wat geskeer of gespuit word, verteenwoordig nie net ‘n bydrae nie, maar ook solidariteit met mense wat deur kanker geraak word,” het hy gesê.

Weslander het by hierdie geleentheid met verskeie deelnemers gesels wat vertel het dat hulle familie en vriende weens kanker verloor het. Vir baie was dié dag nie net ‘n geldinsamelingsprojek nie, maar ook ‘n persoonlike huldeblyk. Sommige het hul hare helder pienk, blou of groen laat kleur, terwyl ander die groot stap geneem het om hul koppe kaal te skeer, alles ter nagedagtenis aan geliefdes.

Die Shavathon bly ‘n kragtige simbool van hoop, ondersteuning en gemeenskapsamehorigheid. Met elke skeer en elke kleurstraal word daar nie net geld ingesamel nie, maar ook bewusmaking geskep oor die noodsaaklikheid van ondersteuning vir kankerpasiënte en hul families. Organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor elke deelnemer, vrywilliger en ondersteuner wat hierdie dag moontlik gemaak het, en moedig die publiek aan om steeds betrokke te raak by plaaslike inisiatiewe wat hoop bring.

Die span vrywilligers wat Saterdag die Shavathon by Weskus Inkopiesentrum beman het. Foto’s: Letitia Van Zyl-Schultz
Franz Schultz skeer sy hare ter ondersteuning van kanker-bewustheid

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article