Thelma Matthys met ‘n foto wat op haar troudag geneem is. Regs is Richard Matthys. Foto: Noluvu Ludidi

Noluvu Ludidi

Om vir hul gesinne te sorg en kos op die tafel te sit, was die doel van al drie Laingville-vissermanne wat onlangs naby St. Hele-

nabaai verdrink het nadat hul boot omgeslaan het.

Die voorval het op Vrydag 15 Augustus naby Shelley Point gebeur – slegs ‘n week ná die motorongeluk wat die lewe van drie lede van ‘n Laingvillese gesin (Randy Fillies, Rachèma Fillies en Heidi Alexander) geëis het.

Pieter Jordaan (52), Francois Samuels (44) en Richard Matthys (57), wat gereeld saam visgevang het, het dié Vrydagoggend soos gewoonlik hul huise verlaat om hottentotsvis te gaan vang, maar hulle het nooit teruggekeer nie.

Met die nuus van die boot wat omgeslaan het, is nooddienste na die toneel ontbied en ná ‘n intensiewe soektog deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is al drie vissers se liggame gevind. Die boot is omstreeks 19:00 uit die water gesleep.

Volgens Magrieta Jordaan, Pieter se vrou, is die nuus van haar man se dood moeilik om te verwerk. Wat haar die seerste maak, is dat sy op boodskapgroepe moes hoor van die boot wat omgeslaan het. Niemand het die nuus persoonlik kom oordra nie.

Magrieta meen haar man het omstreeks 04:30 opgestaan, haar en die kinders gegroet en die huis om 07:00 verlaat.

“Hy het vir homself ‘n pad oopgeloop en waar hy ook al gekom het, het hy diep spore in mense se harte gelaat. Hy het altyd vir die familie gesorg en nooit stilgesit nie, net sodat hy ‘n geldjie en ‘n broodjie op die tafel kon sit. Dit is steeds onwerklik en voel asof ek nog vir sy klop aan die deur wag.”

Thelma Matthys, Richard se vrou, sê sy is die oggend voor haar man by die huis weg om te gaan werk.

“Toe ek by die huis aankom, het ek gaan sit en later ‘n bietjie gaan lê. ‘n Gevoel het by my opgekom en ek het wakker geskrik en die huis aan die kant begin maak.

“Ek is na my suster toe en het daar gekuier, en omstreeks 17:30 by die huis gekom en vir hom gewag.

“Ek het vir myself gesê hy is darem baie laat en sou teen dié tyd by die huis gewees het.”

Thelma sê sy het die nuus gekry dat haar man en nog twee vissers se boot omgeslaan het, waarna sy dadelik hawe toe is.

“Toe ons by die hawe kom, het hulle daar vir my gesê al drie mense het omgekom. Dit het gevoel asof ek wou flou val, want hoe het dit gebeur? My man is dan ‘n goeie swemmer?”

Sy het baie vrae wat in haar kop maal, maar die gebede en bemoedigende boodskappe wat sy ontvang het, gee haar berusting, sê Thelma.

“Ek kom al deur baie sterftes, maar ek het nie gedink dit sou my man wees nie. Hy was ‘n man duisend en ‘n harde werker. Visvang was in sy bloed en hy het altyd vir iets op die tafel gesorg.”

Volgens Rachel Tielling, Samuels se ma, het die nuus van haar seun se dood ‘n gat in haar hart gelaat. Sy moes dieselfde deurgegaan het met Samuels se pa, wat 25 jaar gelede verdrink het.

“Ons neem dit baie swaar en het dit glad nie verwag nie. Ná sy pa se dood het hy ingetree om vir die familie te sorg. Boeta het van ‘n jong ouderdom af ‘n liefde vir die see gehad.

“Hy het altyd vir my ‘n geldjie gegee en seker gemaak ek is oukei.”

Die voorval word ondersoek.

Wyle Francois Samuels
Wyle Richard Matthys
Die drie vissermanne se boot is omstreeks 19:00 uit die see naby Shelley Point getrek. Foto: Danie Hefers

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article