VELDDRIF – Toe ’n boer onlangs ’n witkruisarend optel wat nie meer kon vlieg nie, het hy geweet wie om te bel.
Etienne Swanepoel, wat wyd op die Weskus bekend is as die stigter van Dwarskersbos Slangredding en Bewaring, het die oproep ontvang. Die twee het mekaar op die pad tussen Klein Tafelberg en die dorp ontmoet, waarna die arend na dr Martinus Jacobs geneem is vir ’n ondersoek en behandeling.
Sulke oproepe het deel van Swanepoel se daaglikse lewe geword.
Wat sowat nege jaar gelede as ’n betrokkenheid by slange in Dwarskersbos begin het, het intussen uitgebrei tot ’n veel groter passie vir die redding, rehabilitasie en bewaring van wilde diere.
“Ek het gedink dit gaan ’n klein dingetjie wees,” vertel hy oor die beginjare.
Die publiek het egter gou besluit dat iemand wat ’n pofadder kan hanteer, ook vir ander diere in nood kan help. Slange is gevolg deur onder meer robbe, jakkalse en pikkewyne.
Uit Dwarskersbos Slangredding en Bewaring het Sandveld Wildlife Education and Rehabilitation Foundation, beter bekend as SWERF, gegroei.
Die geregistreerde organisasie word deur drie direkteure bestuur: Swanepoel, plaaslike veearts Martinus Jacobs en Lauren Matthews, wat voorheen by CapeNature betrokke was.
Volgens Swanepoel is die behoefte aan so ’n organisasie in die Sandveld groot. Nadat die rehabilitasiesentrum by St Helenabaai gesluit het, is daar volgens hom nie meer ’n geskikte plek aan dié deel van die kus waar beseerde wilde diere herstel kan word nie.
SWERF wil dié leemte aanspreek deur ’n veilige plek te skep waar diere wat beseer, wees gelaat of uit gevaarlike situasies gered is, versorg en uiteindelik weer in die natuur vrygelaat kan word.
Die pad van redding tot vrylating is egter nie eenvoudig nie.
’n Dier moet eers veilig gestabiliseer word en deur ’n veearts ondersoek word. Daarna volg behandeling en versorging wat volgens die dier se spesie en toestand verskil. Kos, medisyne, geskikte skuiling en daaglikse versorging is alles deel van die proses.
Die uiteindelike doel bly egter dieselfde: om die dier sterk genoeg te kry om na sy natuurlike omgewing terug te keer.
“Niks word aangehou nie,” is die beginsel.
Die werk verg egter veel meer as net ’n liefde vir diere.
Brandstof, veeartsenykundige sorg, medisyne, voedsel, hokke, water en elektrisiteit bring aansienlike koste mee. Daarby is kundigheid en volgehoue toewyding noodsaaklik.
SWERF is tans besig om goedkeuring vir artikel 18A status te bekom, wat dit vir skenkers moontlik sal maak om hul bydraes vir belastingdoeleindes te gebruik.
Die organisasie is ook dringend op soek na geskikte grond waarop ’n rehabilitasiesentrum en toevlugsoord gevestig kan word.
Intussen speel die gemeenskap ’n belangrike rol.
’n Onlangse voorbeeld was ’n flamink met ’n gebreekte been wat in Velddrif aangemeld is. Die voël kon steeds vlieg en het buite bereik geland. Nadat inwoners gevra is om op die uitkyk te wees, is die flamink binne ’n dag opgespoor.
Die besering was egter reeds te oud om te herstel en die voël moes uitgesit word om verdere lyding te voorkom.
Vir Swanepoel wys sulke gevalle hoe belangrik dit is dat die publiek weet wat om te doen wanneer hulle ’n wilde dier in nood raakloop.
“Stuur vir ons ’n ligging, laat weet ons, bring hom vir ons,” sê hy.
“Ons kan nie oral rondry vir elke dier nie. Hoe meer die publiek help, hoe meer diere kan ons help.”
Swanepoel beklemtoon dat SWERF nie aan hom, Jacobs en Matthews behoort nie.
“SWERF behoort nie aan my en Martinus en Lauren nie. Dit behoort aan die Sandveld.”
Sy droom is dat die organisasie lank ná sy eie betrokkenheid sal voortbestaan en ’n blywende nalatenskap vir die streek se wildlewe sal wees.
“En die dag as ek nie meer daar is nie, dan wil ek hê SWERF moet my voetspoor en nalatenskap wees wat agterbly.”
Vir meer inligting kontak Etienne Swanepoel by 082 066 3911.




