Nadat Velddrif die afgelope paar weke die voorloper was, het sy reis Saterdag op die Grafkelder in Pella tot ‘n einde gekom toe Young Hearts, die tuisspan, hom 39-32 verslaan het. Sy kanse om later vandeesmaand nog in die Sanlam- Boland-Top-12 te speel, is nou daarmee heen.
Saldanhabaai het met ‘n wegholoorwinning van 93-5 oor Goedverwacht by die Transnet-stadion in Saldanha nie net die nuwe voorloper geword nie, maar ook seker gemaak hy is na alle waarskynlikheid die nuwe Grootuitdaagbekerkampioen van die Weskusstreek. Al verloor Saldanhabaai sy laaste wedstryd teen Young Hearts in Pella, kan net een span hom nog verbysteek.

Met St. Helenabaai en Velddrif wat albei reeds die liga voltooi en op 72 punte geëindig het, kan net Vredenburg nog Saldanhabaai verbysteek – as hy eerskomende Saterdag teen Goedverwacht ‘n oorwinning met ‘n bonuspunt behaal. Dit sal beteken dat Saldanha tweede op 73 punte sal eindig. Saldanha sal die wedstryd met arendsoë dophou, terwyl Vredenburg se ondersteuners sal hoop dat ‘n wonderwerk sal gebeur.
Die meeste streekwenners en naas- wenners is reeds hierdie naweek bevestig.
Vanjaar se Sanlam-Boland-Top12-eindstryde gaan weer eens die aantrekkingspunt op die Boland-stadion in Wellington wees, waar opwindende rugby met ‘n paar nuwelinge verwag word. Ondersteuners kan uitsien na die 2025-Top-12-uitklopreeks wat vyf weke van opwindende rugby gaan opdis voordat die eindstryde aan die beurt kom.

Met Saldanhabaai en Vredenburg (hopelik) van die Weskusstreek asook Wesbank en Abbotsdale Lillies (hopelik) van die Swartlandstreek, hoop ondersteuners dat twee van dié spanne tot in die halfeindstryde sal vorder.
Saldanhabaai, Wesbank en Darling is huishoudelike name wanneer dit by die Top-12 kom. Darling is ongelukkig vanjaar afwesig, maar ondersteuners hoop die nuwe generasie van Abbotsdale Lillies en die Burg Boys van Vredenburg gaan net so goed soos hul gevestige bure vaar.
Uitslae:
• Weskus: Young Hearts 39-32 Velddrif, Hopefield 28-21 Langebaan, St. Helena- baai 73-21 Piketberg, Paternoster 52-22 Steenberg’s Cove en Saldanhabaai 93-5 Goedverwacht.
• Swartland: Riebeeck United 13-74 Wesbank, Porterville 27-33 Abbotsdale, Good Hopes 19-12 Villagers Wittewater, Darling 28-28 Voorberg, Moorreesburg 18-20 Mamre en Never Despairs 22-20 Saron.
• Wedstrydbepalings vir Saterdag (23 Augustus): Goedverwacht vs Vredenburg, Langebaan vs Paternoster en Young Hearts vs Saldanhabaai.





