Die Saldanhabaai-rugbyklub het die Multisure-Evergreens getakel en 35-23 gewen. Foto: Bernadette Louw Sport Photography

Die sewende Saldanha Super 8 Paasnaweek- rugbytoernooi het die afgelope Donderdag (2 April) by die Transnet Saldanha-stadion met opwindende rugby afgeskop en die langnaweek vir rugbyliefhebbers die moeite werd gemaak.

Ná ‘n reeks harde wedstryde het die Naka Bulls van Pretoria die afgelope Maandag as kampioen uit die stryd getree nadat hulle die gasheer, die Saldanhabaai-rugbyklub, met 50-19 in die eindstryd geklop het. Saldanha het sterk begin en teen rustyd met 12-10 voorgeloop – ten spyte van die feit dat die besoekers die meeste gebieds- voordeel geniet het. In die tweede helfte het die Bulle egter hul krag gewys en 40 punte aangeteken, terwyl Saldanha slegs een keer die Bulle se doellyn kon oorsteek.

Die pad na die eindstryd was nie vir die Pretoria-klub juis maklik nie. Hulle het in die kwarteindstryd SK Walmers naelskraaps 28-24 geklop nadat hulle 14 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aangeteken het. In die halfeindstryd teen Suid-Afrika se oudste klub, Hamiltons, het hulle met 12-8 in ‘n taai stryd geseëvier. Saldanhabaai het sy veldtog met ‘n oortuigende oorwinning van 35-23 teen Evergreens begin, met blink vertonings deur die skrumskakel, Darren Visser, en die kaptein, Samuel Greyling. In die plaat-eindstryd het SK Walmers teen Hawston geseë- vier.

Die Saldanhabaai-rugbyklub het die Multisure-Evergreens getakel en 35-23 gewen. Foto: Bernadette Louw Sport Photography

Die toernooi is regstreeks op Super Sport Schools en YouTube uitgesaai en het waardevolle blootstelling aan plaaslike rugbytalent gebied. Die stadion was op Paasmaandag propvol en die organiseer- ders kan trots wees op ‘n toernooi wat ondersteuners van heinde en ver gelok en uitblinkers opgelewer het.

Brenton-Lee Dickson van Hawston (heelagter) is as agterspeler én speler van die toernooi aangewys ná ‘n reeks uitblinkvertonings wat sy vermoë om aanvalle af te stuur en die spel te beheer, beklemtoon het. Die kaptein (Greyling) het sy span met sy sterk leierseienskap en vasberadenheid gelei – veral in die belangrike oorwinning teen Evergreens, waar sy in- vloed duidelik sigbaar was.

Ashley Amon van die Naka Bulls was ‘n sleutelspeler in die eindstryd en het die Pretoria-klub se oorheersing met sy druk en spel in die tweede helfte verseker. Darren Visser se taktiese skopwerk en spelverdeling as skrumskakel was ‘n hoogtepunt in die uitspeelwedstryde en het hom as een van die plaaslike uitblinkers gevestig.

Met die toernooi nou agter die rug, skuif die fokus na die plaaslike kompetisie, die Sanlam- Boland-Grootuitdaagliga van die Weskus. Die Saldanhabaai-rugbyklub is die verdedigende en ook die Sanlam-Boland-Top-12-kampioen en is goed op koers om sy titel in die Weskus te verdedig. Die Paastoernooi het nie net uitblinkers opgelewer nie, maar ook die pas aangegee vir ‘n seisoen vol opwinding en mededinging en het gewys dié toernooi is ‘n groot trekpleister.

Uitslag en toekennings 2026- Saldanha Super 8 kampioen:

Naka Bulls (wen 50-19 teen die Saldanhabaai- rugbyklub); Plaat-kampioen: SK Walmers (wen 36-32 teen Hawston); Agterspeler en Speler van die Toernooi: Brenton-Lee Dickson (Hawston); en Voorspeler van die Toernooi: Daniel Bowoto (Hamiltons). Ander uitslae: Gardens 12-41 Hamilton; Vredenburg 44-27 Multisure Evergreens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article