Saldanha het Saterdag op sy tuisveld die besoekende Velddrif 50-13 in die twee spanne se Boland-grootuitdaagbekerwedstryd afgeransel.
Die verdedigende Boland-klubkampioen, wat die eerste helfte die wind van agter gehad het, het die besoekers in hul eie gebied met skitterende lynskoppe vasgepen. Die besoekers het in die eerste helfte gesukkel om gebiedsvoordeel met die wind van voor te bewerkstellig.
Dit het Saldanha in staat gestel om sy bonuspunt reeds in die eerste helfte met vier drieë te verseker en die spelers het gaan water drink met die telling 24-7 in Saldanha se guns.
Velddrif het dit egter nie vir die tuisspan maklik gemaak nie en die besoekers het die tuisspan met rotsvaste verdediging gereeld op die agtervoet gehou. Saldanha het koelkop gebly en ten spyte daarvan dat die kampioen baie besit in die lynstane afgestaan het, het hy steeds sy kanse die beste benut – iets wat die besoekers nie gedoen het.
Velddrif het ná ’n volle agterlynbeweging uit sy eie gebied gewys hy het gewis die karakter en vermoë om enige span te troef en die beste drie van die wedstryd vir sy eerste punte gedruk.
Die besoekers het ook die tweede helfte goed begin met twee strafskoppe en met die telling 24-13 in die tuisspan se guns, was die tafel gedek vir opwindende rugby. Twee ernstige beserings vir Velddrif het egter die res van die wedstryd in ’n eenrigting-stryd gestuur, wat die tuisspan tot sy voordeel gebruik het.
Saldanha het daarna die krane behoorlik oopgedraai en nog vier drieë ingeryg. Dié span is tans een van net twee wat steeds onoorwonne in hul streek is. Ná die komende naweek sal dit net een wees wanneer hulle na die Agterbaai reis om die ander onoorwonne span, St. Helenabaai, aan te durf.
St. Helenabaai het Saterdag sy onoorwonne rekord behou toe die span Vredenburg 15-13 in sy eie agterplaas geklop het.
Ander uitslae in die reeks: Langebaan 27-27 Paternoster; Piketberg 32-19 Hopefield; Mamre 23-28 Young Hearts.. Piketberg reis hierdie naweek na Mamre, Langebaan besoek die Grafkelder in Pella, Vredenburg reis na Paternoster en Hopefield onthaal die span van Velddrif.




