Die wedstryd teen die verdedigende kampioene van die Sanlam-Boland-Top-12-toernooi, Robertson Town, was baie belangrik vir die Saldanhabaai-rugbyklub. Die uiteindelike wenner in Groep B sal die algehele wenner van die groep wees.
Dié twee spanne het reeds vir die halfeindrondes op Saterdag 15 November in die Boland-stadion in Wellington gekwalifiseer.
Saldanhabaai het geweet dit gaan nie ‘n maklike taak wees om Robertson in sy agterplaas te klop nie, maar het goed in die lynstane en skrums gekombineer om Robertson in die eerste helfte onder druk te hou.
Robertson het in die tweede ronde egter die tempo gelig, Saldanhabaai getroef en die wedstryd 46-27 gewen.Die twee Groep B-spanne kom in die halfeindrondes teen Roses United en Villagers Worcester te staan.
Vredenburg het op sy beurt na Botrivier gereis en die tuisspan, wat die vorige Saterdag op verrassende wyse met Roses United klaargespeel het, in sy agterplaas aangedurf.
Vredenburg het in die opwindende wedstryd eerste bloed geruik, met Dorehano Carolus wat ‘n strafskop in die agtste minuut oorgeklits het.
Botrivier het met ‘n teenaanval te- ruggeslaan en die agterlyn het onder die pale afgerond (7-3). Net toe dit lyk of Botrivier op pad is om ‘n tweede drie te druk, het Thyrique Carolus ‘n bal onderskep en ongeveer 55 m gehardloop om Vredenburg se eerste drie onder die pale te druk(7-10).
Vredenburg se dissipline het hom ná twee geelkaarte in die steek gelaat, maar hy het karakter gewys deur goeie verdediging, wat Botrivier gestuit en twee driëe gekeer het. Vredenburg het sy derde drie gedruk ná ‘n rolmaalbeweging en sy voorsprong tot 7-15 gerek. Vredenburg het met ‘n rolmaalbeweging gekom en Botrivier voorlangs betrap. Waylen Meyer het dié beweging met ‘n drie afgerond(7-22).
Ongelukkig het Vredenburg se dissipline hom weer in die steek gelaat met ‘n derde speler wat koelkamer toe is omdat hy die bal bewustelik afgeklap het terwyl Botrivier op pad was om ‘n drie te druk. Die skeidsregter het die televisieskeidsregter genader, wat beslis het ‘n strafdrie moet aan Botrivier toegeken word. Die Burg Boys het met ‘n gerieflike voorsprong van 14-22 gaan rus.
Botrivier het met meer vuur in die tweede helfte gespeel, maar kon steeds nie Vredenburg se verdediging breek nie. Met Ruan Kleinsmith en Mezonevon Bezuidenhoudt van Vredenburg se vierde en vyfde drieë en ‘n suksesvolle strafskop het Botrivier se skare bekommerd geraak (26-37). Met 13 spelers op die veld en tien minute oor, het Vredenburg se verdediging egter geknak en Botla het in die 78ste minuut ‘n drie gedruk.
Dit was egter te laat en die Burg Boys het die wedstryd 33-37 gewen.
Saterdag (15 November) takel Saldanhabaai die Worcester Villagers.
• Ander uitslae: Wesbank 27-41 Roses United, Delicious NW 28-59 Hillcrest United, Abbotsdale 34-76 Safcol United, en Villagers Worcester 57-5 Vanrhynsdorp Eagles.





