Stappe wat al in die Weskus geneem is om ernstige tekortkominge in die gesondheidsorgstelsel aan te pak is uitgelig by die Weskus-sakekamer se swartdas-galageleentheid op Vrydag 25 Julie by die Blue Bay Lodge in Saldanha.
Die eregas, Mireille Wenger, Wes-Kaapse Provinsiale Minister van Gesondheid en Welstand sedert Junie 2024, het gesê sy het eerstehands gesien onder watter druk die gesondheidsorgstelsel verkeer – die hoë aanvraag, die beperkte hulpbronne en die toenemende druk op die voorste linie van professionele mense.
“Daarom is infrastruktuurbelegging ‘n sleutelprioriteit vir ons. Reg oor die provinsie moderniseer ons verouderde fasiliteite en brei kapasiteit uit waar bevolkingsgroei dit vereis.
Volgens Wenger kos siekteverlof sakeondernemings na raming tussen R12 miljard en R19 miljard per jaar. Sy meen belegging in gesondheid en welstand is daarom ‘n morele moet én slim sakebedryf.
Haar departement het verskeie projekte in die Weskus aan die gang, soos die opgradering van die ambulansstasie in Darling (‘n belegging van R3,6 miljoen) en ‘n satellietkliniek in St Helenabaai (R9,95 miljoen).
In Piketberg ondergaan die Radie Kotze-hospitaal opgraderings van R37,5 miljoen om die uitlegvloei en die pasiënt- ervaring te verbeter. Dié projek sal na verwagting teen die einde van 2026 voltooi wees.
Die konstruksie aan die Diazville-vervangingskliniek (R57 miljoen) sal na verwagting teen die middel van die jaar voltooi wees en gaan agt spreekkamers vir chroniese en akute dienste, noodgevalle en wondsorg, sowel as tandheelkundige dienste insluit.
Sy het ook na ‘n reeks merkwaardige vennootskappe by die Vredenburg Provinsiale Hospitaal verwys wat “stilweg gesondheidsorglewering transformeer”.
Verlede jaar het die Life Weskus-hospitaal byvoorbeeld die staatshospitaal se teatergeriewe gebruik terwyl hul eie teater opgeknap word en het Cancercare ‘n tydelike plek benodig vir buitepasiënte wat chemoterapie tydens opknappings ondergaan. Wenger het ook verwys na ‘n private nierdialise-eenheid wat eksklusief ‘n saal in die staatshospitaal gebruik. In ruil daarvoor bied hulle dialise aan ‘n vasgestelde aantal staatspasiënte.
Wenger het ook gesels oor die Groei vir Werkgeleenthede-strategie, ‘n langtermyn- ekonomiese aksieplan om werk te skep, en Planet Youth, ‘n Yslandse program wat fokus op die voorkoming van riskante gedrag onder jongmense.
André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die sakelui daaraan herinner dat elke belegging wat deur ‘n plaaslike entrepreneur gemaak word, elke deur wat vir ‘n jongmens oopgemaak word, is ‘n stappie nader daaraan om ‘n veerkragtige en inklusiewe ekonomie vir die Weskus-streek te bou. Hy het ook die sakekamer bedank vir sy rol as ‘n stem vir plaaslike ondernemings en vir die platform wat hulle bied vir samewerking. “Grootheid word nie in isolasie gebou nie. Dit word gebou deur vennootskappe, netwerke en ‘n gedeelde doelwit.”
André de Villiers, die sakekamervoorsitter, het sy “droomspan”, Gary Badenhorst, tesourier, Stephanie Maney en Mark West, geleentheidsorganiseerder, bedank vir ‘n “wêreldklas-aand”.
“Julle passie en professionaliteit het deur elke detail geskyn.”
Pretorius hoop om dié geleentheid ‘n jaarlikse viering van uitnemendheid, veerkragtigheid en gemeenskapsgees te maak.
Om ‘n lid te word, stuur e-pos na admin@weskussakekamer.co.za





