Die manne van Saldanha keer Ronaldo Brown van Saldanha Tigers om deur te breek. Foto: Noluvu Ludidi

Met die aanvang van die nuwe seisoen in die Boland-Groot-uitdaagreeks was daar nie juis verrassings nie.

Hopefield het Saterdag die Grafkelder in Pella besoek en het by tye gevaarlik gelyk, maar die Young Hearts-troepe van die uitgeslape Ruben Abels was rotsvas op verdediging en skitterend op die aanval.

Young Hearts het die wedstryd met 38-15 gewen nadat hy rustyd 17-8 voor was.

Hopefield het vinnig uit die blokke gespring en gou 0-3 voorgeloop. Die besoekers het die eerste 40 minute van die wedstryd baie aspekte van die spel oorheers, maar die gebrek aan afronding het ‘n rol gespeel. Young Hearts, wat ook in die vasteskrums gesukkel het, kon nie hul lynstaanbesit behou nie, wat telkens voordeel aan Hopefield besorg het.

Young Hearts se rotsvaste verdediging was ‘n plesier om te aanskou en het die besoekers gereeld tot foute gedwing, wat besit omgekeer het.

Abels, wat ná ‘n seisoen en ‘n half sy terugkeer gemaak het, het onmiddellik ‘n verskil gemaak en teen rustyd sy “Bomb Squad” vrygelaat, wat die rigting van die wedstryd bepaal het. Hopefield het nie antwoorde gehad nie en moes skielik verdedig vir al wat hy werd was.

Daarna is Hopefield gereeld soos ‘n Shoprite-trollie in die vasteskrums rondgestoot en het byna elke keer ‘n strafskop afgestaan. Met ‘n bietjie minder dissipline het die tuisspan die wedstryd met 14 man voltooi. Die bonuspuntoorwinning en die punteverskil laat Abels en sy troepe van vroeë pasaangeërs ook boaan die punteleer staan.

Vredenburg is ook tans een van die voorste spanne ná sy groot oorwinning oor Steenberg’s Cove, terwyl die nuweling Saldanha Tigers goeie rekenskap van homself teen die huidige Boland-kampioen, Saldanhabaai, gegee het.

Mamre het ook ‘n goeie wegoorwinning behaal deur die groen Moorreesburg-truie van Kenny Stadler met 22-10 te klop.

Ander uitslae:

Saldanhabaai 31-18 Saldanha Tigers

St. Helenabaai 56-18 Goedverwacht

Vredenburg 65-5 Steenberg’s Cove

Velddrif 43-27 Piketberg

Paternoster 27-19 Langebaan

Swartland:

Wesbank 62-3 Koringberg

Saron 34-32 Darling

Abbotsdale 48-7 Riebeeck United

Moorreesburg 10-22 Mamre

Porterville 40-21 Good Hopes

Villagers Wittewater 20-18 Never

Despairs

Die naweek pak Langebaan die Young Hearts, Hopefield speel teen Velddrif, Piketberg t. St. Helena, Goedverwacht t. Vredenburg, Steenberg’s Cove t. Saldanha en Saldanha Tigers onthaal Paternoster. In die Swartland onthaal Darling Mamre, Never Despair speel teen Porterville, Good Hopes teen Saron, Moorreesburg teen Abbotsdale, Riebeeck teen Wesbank en Koringberg teen Wittewater.

Hopefield het hard probeer om Young Hearts se aanvalle te stop, maar die tuisspan se verdediging was rotsvas. Foto: Murphy Roberts
‘n Young Hearts-speler breek deur Hopefield se verdediging om die span se tweede drie te druk. Foto’s Murphy Roberts

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article