Die manne van Vredenburg en Saldanha veg verbete om die bal, maar Sampie Greyling gaan dit nie maklik opgee nie. Foto: Deon Julius

VREDENBURG – In ‘n wedstryd wat alles behalwe sonlig gehad het, het die Saldanhabaai-rugbyklub en die Burg Boys van Vredenburg Saterdag (9 Augustus) ‘n 20-20-gelykopuitslag in die Sanlam-Boland-grootuitdaagbeker-kompetisie van die Weskus afgedwing.

Hoewel die derby in gietende reën gespeel is – en dit op ‘n veld wat hanteerfoute afgedwing het – is van die eerste minuut af gewys dat albei spanne nie net vir punte speel nie, maar ook vir streekstatus.

Saldanha het vroeg momentum gevind met Wilton Hoogbaard wat in die vierde minuut ‘n strafskop tussen die pale vir ‘n 3-0-voorsprong deurgestuur het.

Vredenburg het egter nie op hom laat wag nie en sy ritme gevind. Thyrique Carolus het ná goeie spel ‘n drie gedruk en Nazro Cleophas het ‘n strafdoel bygevoeg om die telling na 8-3 te swaai.

Die wedstryd was ‘n taktiese skaakspel in die modder. Saldanha het sy stempel op die wedstryd probeer afdruk. Mikyle Hanse en Feghon-Leigh Snyder se twee goed opgeboude drieë en die suksesvolle doelskop deur Hoogbaard het die besoekers teen rustyd 15-8 laat voorloop.

In die tweede helfte het Vredenburg die gaskraan oopgedraai en Saldanha se verdediging getoets.

Slim taktiese skuiwe het tot in die 18de minuut van die tweede helfte geduur toe Riaan Louw gaan druk het om die telling na 20-8 op te stoot.

Die Burg Boys het egter karakter getoon, met Linatbi Jack en Cleophas wat elk ‘n drie gaan druk het. Cleophas het sy drie verdoel om die telling op 20-20 gelyk te maak.

Die laaste tien minute was ‘n toets van karakter weens aanvalle wat afgestuur is, maar rotsvaste verdediging het verhoed dat geen verdere punte aangeteken word nie.

Die uitslag het die punteleer in die Bolandstreek wyer oopgetrek.

Saldanha (met 69 punte) en Vredenburg (met 68) is nou net een en twee punte agter Velddrif se 70 punte.

Velddrif word komende Saterdag (16 Augustus) self deur ‘n moeilike toets teen Young Hearts in die gesig gestaar.

Saldanha se pad vorentoe is duidelik – Goedverwacht hierdie Saterdag (16 Augustus) en dan die finale kragmeting teen Young Hearts in Pella op Saterdag 23 Augustus. ‘n Bonuspunt-oorwinning teen Goedverwacht sal hul kanse dramaties versterk.

Vredenburg, wat ‘n rusnaweek het, sal met arendsoë kyk hoe die uitslae uitspeel. St. Helenabaai is ook nog binne bereik en die Burg Boys weet dat hul lot in hul eie hande lê.

Die Boland-grootuitdaagbeker se laaste wedstryde beloof om ‘n riller te wees. Soos dinge nou staan, kan nie een van die spanne bekosting om vas te val nie.

Ander uitslae:

Swartland

Abbotsdale 43-5 Good Hopes, Mamre 25-20 Saron, Riebeeck United 12-28 Never Despair, Voorberg 0-26 Porterville en Wesbank 48-26 Darling.

Weskus

Goedverwacht 22-70 St. Helena, Langebaan 34-29 Young Hearts, Piketberg 14-19 Paternoster, Steenberg Cove 7-29 Hopefield en Vredenburg 20-20 Saldanha.

Wedstrydbepalings vir Saterdag 16 Augustus:

Young Hearts t. Velddrif, Hopefield t. Langebaan, Paternoster t. Steenberg Cove, St. Helenabaai t. Piketberg en Saldanha t. Goedverwacht.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article