By Kerslig

My suster het nou die dag, toe ek ‘n paar “onlekker” dae gehad het en my moed diep in my skoene was, die liedjie “Unstoppable” van Sia vir my gestuur. Dit het my laat dink: Wat maak dat ‘n mens “unstoppable” raak? Wat gebeur binne jou dat jy, ten spyte van omstandighede, nog elke oggend opstaan en doen wat gedoen moet word, al voel jy nie so nie?

Daar is nie een mens op aarde wat kan sê hy/sy het nog nie ‘n donker dag of seisoen beleef nie. Wel, as jy sê jy het nie, sal ek sê: Ou pêl, jy jok darem nou lekker en jy is gewis familie van Pinocchio.

Dana Snyman noem die donkerte/depressie Die Swart Hond. Die Swart Hond kom by party van ons net so by die straathoek staan en loer vir jou. By ander kom staan hy by die deur en blaf en dan is daar dié van ons by wie Die Swart Hond hom onder die kombers saam met jou in die bed kom tuismaak. Hoe dit ook al sy – almal het die een of ander tyd Die Swart Hond ontmoet.

Die lewe is die lewe. Die storie word vertel van die plaasboer wie se enigste perd weggehardloop het. Die hele dorp het gesê: “Dit is nou bad luck.” Ná ‘n maand kom die perd met ‘n trop wilde perde terug. Die dorpsmense sê toe: “Dit is nou good luck.” Die wysheid van die storie is dat die lewe uit “bad luck” en “good luck” bestaan en dit maak nie saak watter een teenwoordig is nie – die lewe loop sy loop en staan nie stil nie. Net so gaan ons ook elke dag aan.

Wat maak jou opstaan, al is jy so moeg dat jy te moeg is om te gaan bad, of jy het so seer dat jou hart fisiek van die hartseer pyn? Is dit ons oorlewingsdrang binne ons wat maak dat ons nie anders kan as om net aan te gaan nie; al is dit net ‘n geval van “smile and wave”, al vrek jy so bietjie binne jou? Maskers is ‘n lelike ding, want jy kan almal om jou kul. Die gevaar is dat jy so goed raak in die toneelspel dat jy op ‘n dag ophou leef en net ‘n liggaam is sonder lewe. Dis seker dan ‘n zombie.

Niemand van ons kies om ‘n zombie te wees nie. Die lewe gebeur net en ons maak soms verkeerde keuses.

Wyshede wat dit probeer verklaar, of wat ons vir onsself vertel om “unstoppable” te wees, is soos letsels wys dat jy geleef het; jy moet foute maak om te leer; jou moeilike tye is daar om jou sterker te maak; en dit is die “training” wat nodig is om ons te laat groei en ons help om hoër hoogtes te bereik.

Robbie Wessels sing in die liedjie “Racheltjie de Beer”: “Die les wat ons almal uit haar dapper hart kan leer, wanneer alles om jou donker raak en die sneeu kom op jou neer, lê soos Racheltjie de Beer jou eie lewe neer.” Is dit die antwoord? As dinge donker word en jy jou lewe neerlê, gaan jy dan “unstoppable” wees? Nie almal van ons is dapper nie, maar ek glo ons almal het goed in ons en daarom kan ons, soos Racheltjie de Beer, dapper wees.

My pa het altyd gesê die lewe deel elke dag vir jou ‘n stel kaarte op die lewens-

tafel uit. Jou werk is om die kaartspel elke dag so goed jy kan, te speel. Party dae is dit ‘n slegte klomp kaarte, net om uit te vind die volgende dag is dit die wenkaarte. Die aanhou kaartspeel elke dag – maak dit van jou “unstoppable”?

Watter raad is daar dan wat ons help om “unstoppable” te wees? Is dit positiewe denke, ‘n pil wat jy elke dag sluk, Tai Chi waar jy bewus word van energie, of gebed, bv. Ps. 31:16: “My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers”? Elkeen van ons is uniek en moet seker vir hom/haarself besluit wat gaan help om “unstoppable” te wees.

Soms moet jy ‘n harde stem gebruik sodat jy kan wys jy is “unstoppable”, bv. as jy weer en weer opstaan vir dié wat nie ‘n stem het nie. Soms is “unstoppable” om stil te wees en nie te baklei nie, soos as die lewe ‘n onregverdige kaart vir jou uitgedeel het en jy stilbly ter wille van die groter prentjie en tot voordeel van ander.

Teen die einde maak dit nie regtig saak watter kaarte jy gekry het om die dag te speel nie. Wat saak maak, is dat jy elke dag by die tafel staan, gereed om jou kaarte vir die dag te kry en dit te speel met alles wat jy in jou het – na die beste van jou vermoë. Dan is jy “unstoppable”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article