Regter Nathan Erasmus het die vyfde week van die hofsaak oor die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith geopen met ‘n duidelike waarskuwing aan kuberboelies wat gemanipuleerde videomateriaal versprei oor hom en die regslui betrokke by die saak.
“Ons sal sonder vrees of guns optree,” was sy waarskuwing aan die betrokke individue en groepe.
Hy het daarna verwys dat die staat én die verdediging slagoffers was van kuberafknouery wat insluit KI- gemanipuleerde videomateriaal wat in die openbare domein geplaas is.
Erasmus het prontuit gesê hy hou niks daarvan nie – “I don’t take kindly to it” – omdat hy meen dit die hofproses ondermyn en onnodige agterdog in die gemoedere van die publiek oor die toepassing van geregtigheid veroorsaak.
Hy het ook die optrede deur sommige individue as “om die minste te sê” doelbewus beskryf. Hy het ook verwys na individue wat gerugte versprei dat hy self deel van Joshlin se verdwyning was.
‘n Rits plasings word daagliks op TikTok gemaak oor die hofsaak, waarvan materiaal uit die lewendige uitsendings op YouTube gebruik word. Die lewendige uitsendings verander in gewone videoplasings ná uitsending. Dit is ook in van dié uitsendings se intydse kommentaar waar Erasmus, die regslui en die beskuldigdes voortdurend óf opgehemel óf afgekraak word.
“Miskien is dit net die teken van die tye waarin ons leef dat mense so laag kan daal. Ons aandag sal egter nie afgelei word deur hierdie individue of groepe wat daarop uit is om die prosesse van die hof te ondermyn nie.”
Hy het ook gesê die media mag glad nie meer die afgemerkte gebied in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, betree nie.
Die hofdomein word met opgeplakte strepe op die vloer aangedui.
Hy het ook die media aangesê om hul mikrofone af te skakel wanneer die hof verdaag, vermoedelik oor ‘n TikTok-video waarin Steveno van Rhyn se regsverteenwoordiger, Nobahle Mkabayi, skaars hoorbaar iets oor ‘n rassis sê. Die TikTok-plasings maak die aanname dat sy van Erasmus praat.
“Die oomblik wat ons verdaag, skakel jy hulle af. As julle nie by die reëlings hou nie, sal ek nie huiwer om mense uit die hofsaal te verwyder nie. Ek hoop ek het dit duidelik gemaak.”




