Herschelle Engelbrecht (kassier), Alezade Brink en Bradley Jagens (senior spanbestuurder).

Redstars-rugbyklub staan onnie ná nierversaking by


Nierversaking is by Alezade Brink, ‘n 27-jarige onderwyseres van Redelinghuys, gediagnoseer. Sy worstel tans met ernstige nierprobleme en benodig dringend ‘n nieroorplan­ting.

Haar ma, Denise Brink, is ‘n geskikte skenker, maar die operasie beloop meer as R100 000 – ‘n bedrag wat ver buite die gesin se vermoë is.

Intussen ondergaan Alezade twee keer per week dialisebehandeling in Vredenburg. Hierdie behandeling, saam met die reiskoste, plaas ‘n geweldige finansiële las op haar en haar familie. Die brandstofkoste alleen beloop sowat R1 200 per week.

­Sy is tans besig met die finale toetse in voorbereiding vir die oorplanting. Hoewel sy oor ‘n mediese fonds beskik, dek dit ongelukkig nie al die uitgawes nie. Verskeie bybetalings en addisionele kostes moet uit haar eie sak gedra word – ‘n onkoste waarvoor sy eenvoudig nie voorsiening kan maak nie.

‘n BackaBuddy–veldtog is van stapel gestuur om geld in te samel, maar daar is steeds ‘n tekort.

Hierdie finansiële druk plaas groot spanning op die gesin, wat intussen hoop en geloof behou dat die gemeenskap, privaat maatskappye en organisasies sonder winsbejag sal bydra om die koste te dek.

Wessie van der Westhuizen, Redstars-rugbyklub in Redelinghuys se voorsitter, het namens dié klub ‘n bydrag van R2 000 aan Alezade oorhandig.

Hoewel die klub self finansiële uitdagings ervaar, glo hulle dat sportklubs ‘n groter rol het as net om wedstryde te speel. “Ons is deel van die gemeenskap, en waar ons kan help, sal ons help,” sê Van der Westhuizen.

Die klub het verder aangekondig dat hulle ‘n High Tea vir Alezade op Vrouedag in Augustus gaan aanbied. Hierdie geleentheid sal geld insamel en die gemeenskap bymekaar bring om solidariteit en ondersteuning te toon. Die Redstars-rugbyklub hoop dat ander instansies, ondernemings en individue sal aansluit om die veldtog verder te versterk.

Die Redstars-rugbyklub het weer eens gewys dat die gemeenskap van Redelinghuys ‘n verskil kan maak, ook in Alezade se lewe.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article