Hier en daar tref die laaste slierte van die verskriklike letsel wat die grendeltyd in 2020 op die mensdom én die Weskus gelaat het, ‘n mens nog soms in die gesig.
Die meeste kantore is weer op dreef en sake gaan aan soos vóór dié traumatiese tyd waarin elke mens en gesin hulle in hul eie kokonnetjie ingetrek en net op eie oorlewing gefokus het.
Die gesigklapslierte lê egter in mense se houdings jeens mekaar.
‘n Selfsugtigheid en ‘n ongenaakbaarheid het ingetree; ‘n fokus op ek, myself en myne, wat neerkom op geldgierigheid en ‘n absolute miskenning van ander se regte en gevoelens.
Dit is daarom verblydend om te sien hoe vanjaar se Mandeladag in die Weskus in elke dorp in ‘n omgeedag verander is.
Spanne mense het in die koue uitgegaan en sop, broodjies, klere en ander benodigdhede aan behoeftige mense uitgedeel.
Ja, dit is deels ook bemarking vir die instansies, maar vir elke ontvanger sal dit ‘n dag wees wat hulle nog lank gaan onthou – die fisieke uitreik van mense na mekaar.
Soos die onskuldige kindergesiggie wat vir altyd sal onthou hoe hy ‘n koppie sop aan ‘n verrimpelde oumens gegee het.
Die dankbaarheid en die genoegdoening om vir ‘n ander mens iets te beteken, sal hopelik later in sy lewe maak dat hy dit weer doen.


