Daar is nog altyd iets besonders kragtig aan mense wat saamstaan – hetsy dit nou is om misdaad te bekamp, die gemeenskap te beskerm of die omgewing skoon te maak. Die afgelope week het ons weer gesien hoe Weskusmense kán saamstaan, veral as politiek vir eers eenkant toe geskuif word.

In Hopefield het inwoners bekommerde boodskappe oor ‘n staking by die Elandsfonteinmyn aan Weslander gestuur – nie oor die feit dat dit ‘n staking as sulks is nie, maar omdat hulle bekommerd was oor die stakers se welstand; oor mense wat in die fel son staan sonder water. Hulle was net besorgde gemeenskapslede wat vir mede-inwoners omgee.

Plaaslike polisiespeurders het ook die krag van saamstaan gewys deur speurders van verskillende polisiekantore, wat saam met die Weskus-blitspatrollie gewerk het om duur gesteelde goedere tot in die Kaap te volg en terug te vind. Hulle het saamgespan en vir dae aangehou toe hulle agtergekom ‘n selfoonsein verklik die inbrekers se doen en late.

Selfs in ontspanning en vrywillige diens het mense gewys saamstaan werk. Die gemeenskappe van Velddrif en Laaiplek het hul eerste gesamentlike strandskoonmaakprojek van stapel gestuur en skaars ‘n paar uur later het 30 vrywilligers opgedaag, wat in ‘n japtrap 17 sakke vol rommel opgetel het.

As ons Weskussers gaan saamstaan, sal selfs die stygende brandstof- of kospryse, moeilike omstandighede en misdaad ons nie onderkry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article