Met die eerste ronde van die Boland Rugby Groot Uitdaagbeker-reeks wat nou einde se kant toe staan, het Langebaan Saterdag Paternoster in laasgenoemde se agterplaas gepak.
Langebaan, wat die wedstryd moes wen om sy posisie op die punteleer te verbeter, kon egter nie die wa deur die drif trek nie. Die tuisspan het die stryd met 40-34 gewen nadat hy rustyd reeds 20-13 voor was.
Langebaan, wat nog net drie wedstryde tot dusver kon wen, onthaal Saterdag ’n erg omgekrapte Young Hearts om hul eerste ronde te voltooi.
Langebaan het wel in die tweede helfte karakter en veggees getoon, maar die wil om te wen het ontbreek. Die tuisspan het met rotsvaste verdediging gesorg dat die besoekers nie die wedstryd oorheers nie. Langebaan het met ’n paar minute se speeltyd oor en die telling 37-34 in die tuisspan se guns ’n buitekans gehad om die wedstryd te wen.
Die span se swak dissipline het egter die oorhand gekry en die tuisspan kon die wedstryd met ’n strafskop beklink.
Paternoster, wat tans tweede op die punteleer is, besoek Saterdag Velddrif en slegs ’n oorwinning kan die span in die tweede plek hou. Mamre het ook Saterdag sy hand opgesteek en ’n duidelike waarskuwing aan spanne in die streek gerig toe die groen truie Vredenburg maklik met 33-17 in die Burgboys se agterplaas geklop het. Mamre is tans een punt agter Paternoster.
Mamre onthaal Saterdag St. Helenabaai wat op sy beurt teen die verdedigende kampioen, Saldanha, in die Agterbaai vasgeval het. St. Helenabaai, wat nog twee wedstryde oor het en tans vyfde op die punteleer is, kan met ’n goeie oorwinning sy posisie verbeter.
Young Hearts het op die grafkelder Koringberg afgeransel en ook een van die grootste oorwinnings in die streek behaal. Young Hearts, wat tans die vierde plek beklee, sal met Langebaan moet afreken om hul posisie te verbeter.
Hopefield, wat die seisoen goed begin het, kon nie sy spelpeil behou nie en het op sy tuisveld teen Piketberg vasgeval.
Volledige uitslae
Paternoster 40 – 34 Langebaan, Young Hearts 87 – 10 Koringberg, Hopefield 10 – 41 Piketberg, St. Helena 31- 36 Saldanha, Vredenburg 17 – 33 Mamre.
Swartland
Porterville 31- 34 Saron, Darling 59 – 21 Riebeeck United, Never Despairs 30 – 29 Goodhopes, Abbotsdale 26 – 25 Wesbank.
Die naweek se Weskus-program
Mamre t. St. Helena, Hopefield t. Vredenburg, Koringberg t. Piketberg, Velddrif t. Paternoster, Langebaan t. Young Hearts, Saldanha loslootjie.





