Paasfees is ‘n tyd vir gesinne en families om byeen te kom en die opstanding van Jesus te herdenk. Vir baie het Paasfees ‘n belangrike en besondere betekenis.
Vir Aletta Kleynhans, ‘n inwoner van St. Helenabaai, simboliseer Paasfees hoop. Sy sien dit nie net as die viering van Jesus se opstanding nie, maar ook as nuwe lewe en oorwinning oor sonde en die dood.
“Matteus 28:5-6 lui: ‘Die engel het vir die vroue gesê: Moenie bang wees nie, want ek weet dat julle na Jesus soek wat gekruisig is. Hy is nie hier nie; Hy het opgestaan, soos Hy gesê het. Kom kyk die plek waar Hy gelê het.’ Hierdie vers druk die kernboodskap van Paasfees uit. Jesus het opgestaan, sy belofte vervul en die dood oorwin,” vertel Kleynhans.
Haar wens is dat meer mense Paasfees moet vier met Christus as die enigste rede – en nie alkohol of Paaseiers of Paashase nie.
Maxine Davids, ‘n inwoner
van Saldanha, sê Paasfees simboliseer vir haar die rede vir haar vryheid.
“Ek voel as Jesus Christus nie vir ons gesterf het op die kruis van Golgota nie, sou ons nie die vryheid beleef het om as Christene losgekoop te wees nie. In die ou tyd moes mense lammers of diere gebring het om as losprys vir hulle sonde te betaal, maar vandag beleef ons vryheid en geniet die genade van die Here daagliks, sonder enige prys.”
Tsotello Nenzinane ‘n jong man van Saldanha, sê Paasfees verteenwoordig ‘n kosbare tyd saam met sy familie. Hy meen dit moedig opregte bande met geliefdes en waardering op ‘n dieper vlak aan.
As daar een ding is wat Nenzinane sou wou verander wanneer dit by Paasfees kom, is dit die fokus op die Paashasie en Paaseiers.
“Ja, dit kan ‘n bykomende ding wees, iets wat as ‘n gelukbringer of algemene voorstelling van Paasfees kan dien, maar dit moet fokus op tradisionele gesinstyd. Gehaltestyd saam met diegene vir wie jy lief is, is uiters belangrik.”
Al drie Weskussers glo dat die ware betekenis van Paasfees nooit vergeet moet word nie.








You must be logged in to post a comment.