Credit: Noluvu Ludidi / Weslander

Hoekom het niemand my kom roep nie? Dié vraag bly maal in Natasha Oerson se kop nadat haar man, Marco Oerson (41), Dinsdag (17 Junie) in die vroeë oggendure koelbloedig doodgeskiet is – slegs ‘n paar treë van hul huis af.

Marco Oersen.
Marco Oerson.

Volgens Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is Marco met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. “Die oorledene is in die oop veld tussen Nackerdien en Kwartelstraat, Witteklip, in die kop geskiet,” sê sy.

Natasha verduidelik Marco het die huis verlaat om by ‘n vriend ‘n draai te maak en was op pad terug huis toe toe hy geskiet is.

Sy glo Marco moes vir ‘n geruime tyd daar gelê het, want hy was nog lewendig toe die ambulans opgedaag het.

Natasha het eers die nuus van haar man se dood kort voor agtuur die volgende oggend ontvang.

Waarmee sy steeds worstel, is waarom niemand haar kom haal en na die toneel geneem het sodat sy by haar man in sy oomblik van nood kon wees nie.

Die stille getuienis dat nóg 'n Vredenburger sy lewe verloor het.
Die stille getuienis dat nóg ‘n Vredenburger sy lewe verloor het. Credit: Noluvu Ludidi / Weslander

Natasha is verpletterd en beskryf Marco as iemand wat altyd sy medemens gehelp en vir sy gesin uit sy pad gegaan het.

“Dit is so seer; ek weet nie hoe om aan te gaan nie. Ons het so baie planne gehad. Ek kan nie glo hulle het hom so koelbloedig weggeneem van ons nie.”

Die skietery en moorde in die gebied

raak al meer. Inwoners het met Weslander gedeel dat hulle in vrees lewe en selfs uit die gebied wil trek om hul gesinne te beveilig. Volgens Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, is daar nie ‘n enkele nag in Witteklip dat inwoners nie skote hoor nie – of ‘n oggend sonder slegte nuus oor gemeenskapslede wat gewelddadig vermoor is nie.

“Die nuwe norm in hierdie wyk en die groter Vredenburg, waar die armes en werkersklasmense woon, het alles skielik in ‘n mini- Kaapse Vlakte verander. Al die slagoffers is meestal jong mans. Ons vraag as inwoners bly dieselfde: Waar kom die skielike toestroming van onwettige vuurwapens vandaan? Waarom kan die polisie se intelligensie nie hierdie moorddadige wapens suksesvol opspoor, afneem en die oortreders opsluit nie?”

Die grondpad waar Marco Oerson doodgeskiet is.
Die grondpad waar Marco Oerson doodgeskiet is. Credit: Noluvu Ludidi / Weslander

Pastoor Liezel Dammon, ook ‘n inwoner van Witteklip, is gebroke oor wat tans in haar omgewing gebeur. Sy meen die gemeenskap moet saamstaan, die dood oor die dorp “afsny” en saam in gebed op hul knieë gaan.

Van Wyk sê die gemeenskappe is verpletter om elke tweede week ‘n inwoner te moet begrawe. “Ons harte gaan werklik uit na die families wat geliefdes verloor het en ons gebede vir diegene wat in die hospitaal opgeneem is.”

Marco laat sy vrou en twee kinders agter.

•Die begrafnis vind op Saterdag 28 Junie plaas. Om 09:00 by die huis in 7 Volstruisstraat, Witteklip. Die diens begin om 10:00 by die Louwville gemeenskapsaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article