Die 23-jarige Jabin Afrikaner is Sondagaand (20 Julie) in die Malmesbury-hospitaal dood nadat hy in Sandstraat, Kalbaskraal, aangerand is. Die Malmesbury-polisie ondersoek ‘n saak van moord.
‘n 27-jarige man ontvang mediese behandeling in die Paarl nadat Petrus Markus (51) hom na bewering Vrydagaand (18 Julie) in Sonderendstraat, Moorreesburg, met ‘n mes in die maag gesteek het. Markus het die polisie oor die voorval ingelig en hulle na die misdaadtoneel geneem, waar hy in hegtenis geneem is. Sy eerste hofverskyning was die afgelope Maandag (21 Julie). Die Moorreesburg-polisie ondersoek ‘n klagte van poging tot moord.
Die Piketberg-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat die 48-jarige Luzilda Owies Sondagoggend (20 Julie) omstreeks 06:00 deur ‘n voertuig op die R365 getref is. Sy is op die toneel dood.
Peter-Johan Oktober (21) het Vrydag in die rondgaande hof in Riebeek-Wes verskyn nadat hy Dinsdagnag (15 Julie) met die polisie se aankoms in Convillestraat oproerig geraak het. Oktober het homself en ‘n blinde bejaarde man in ‘n huis toegesluit. Die polisie moes die deur oopdwing. Die polisiebeamptes moes boonop onmiddellik die mes wat Oktober by hom gehad het, afneem.
Curt Moses (41), Roderick Tieties (34), Madlen Booysen (32) en Lezhaar du Toit (21) is Dinsdagmiddag (22 Julie) op die N7 naby Moorreesburg ná ‘n jaagtog deur die polisie voorgekeer. Hulle het net voor die padblokkade by die weegbrug omgedraai en probeer wegjaag. ‘n Sak met dagga, wat die mans uit die voertuig gegooi het, is opgetel en nog dagga is by hulle in die voertuig gevind. Hulle het verlede Donderdag (17 Julie) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn. Drie van die verdagtes is van Klawer en die vierde van Vredendal. Al vier het misdaadrekords.
Sowat R53 000 se toerusting is in Junie uit ‘n kantoor op die ArcelorMittal-perseel tussen Saldanha en Langebaan gesteel. Dit sluit in ‘n gereedskapkas, sweismasjiene, pompe, gasreguleerders en nog verskeie ander duur gereedskap. Die Saldanha-polisie ondersoek die saak.
Leezandro Basson (24) van Saldanha is Donderdagmiddag (17 Julie) en Heinrich Fritz (53) van Vredenburg Saterdagmiddag aangekeer vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Basson en Fritz het op Maandag 21 Julie in die landdroshof verskyn.
Weslander gee weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in die verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.




