Die polisie van St. Helenabaai ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat ‘n vyftienjarige seun op 1 Augustus so erg in Melkbosstraat, Laingville, aangerand is, dat hy steeds in ‘n ernstige toestand in die Grootte Schuur-hospitaal is.
Sandiso Mxhego (34) van die Strand het Maandag 11 Augustus in die Piketberg-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere nadat hy Vrydagaand op die N7 by Piketberg met ‘n gesteelde voertuig voorgekeer is. ‘n Motorhandelaar het dié voertuig, ‘n wit Isuzu-bakkie ter waarde van R250 000, op Vrydag 8 Augustus as gesteel aangemeld.
‘n Geregtelike nadoodse ondersoek is op Citrusdal geregistreer nadat Kosie Hanse (51) van Ceres se lyk Vrydagoggend (8 Augustus) omstreeks 07:50 in die vragmotor wat hy bestuur het, op ‘n plaas in die omgewing gevind is. Die polisie vermoed hy het weens ‘n moontlike gaslek in ‘n gasstoof in die vragmotor versmoor het.
Rico Richards (28) se lyk is Donderdagoggend (7 Augustus) om 07:30 agter ‘n huis in Barryhill, Klawer, gevind. Sy broer, Piet Richards, het hom na bewering met ‘n mes in die bors gesteek. Piet het Maandag 11 Augustus in die Klawer-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Johnrique Johnny van Wyk het Vrydagaand op Vanrhynsdorp Abraham Klaasen (37) na bewering met ‘n pot vol water gegooi en hom daarna met ‘n mes bygekom. Klaasen is na die plaaslike hospitaal in Vredendal geneem, waar hy aan sy wonde beswyk het. Van Wyk het Dinsdag op aanklag van moord in die Vredendal-landdroshof verskyn.
‘n Moordsaak word ondersoek nadat die lyk van ‘n onbekende man Saterdagoggend (9 Augustus) om 03:46 in Resandtstraat, Riverview, met meswonde gevind is. Die Citrusdal-polisie ondersoek die saak.
‘n Twintigjarige man is Sondagoggend (10 Augustus) omstreeks 00:45 in Roosstraat, Lutzville, met meswonde gevind.
Morne Kock (32) en Ricardo Gomes (48) het Saterdagaand (9 Augustus) omstreeks 18:30 op die Holrivierpad verongeluk. Na bewering was hulle onderweg na Vredendal toe hul voertuig van die pad af gery het. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
Tsepo Sepamo (29) het Maandag 11 Augustus in die Clanwilliam-landdroshof op aanklag van omkopery verskyn nadat hy glo Saterdagaand R50 vir ‘n verkeersbeampte aangebied het om ‘n boete te ontwyk.
Carlo Titus (26) en Zubeida Kriel (23) is Saterdagmiddag (9 Augustus) op heterdaad betrap toe hulle probeer het om dagga by die korrektiewe- diensteperseel in Vanrhynsdorp in te smokkel. Hulle het Maandag 11 Augustus in die landdroshof verskyn.
• Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei- dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.





